Vier Odn-opvoeders skitter by WKOD se distrikstoekennings

Van links: Merika Davel, wenner vir uitnemendheid in primêre skool onderrig. Foto verskaf; Ansje Schoeman, wenner vir uitnemendheid in spesiale behoefte leierskap. Foto: Hannes Visser; Riaan Swart, naaswenner vir uitnemendheid in tegnologie-bevorderde onderrig. Foto: Hannes visser en Vivo Venter, naaswenner vir uitnemendheid in sekondêre skool onderrig. Foto verskaf.

Twee opvoeders van Oudtshoorn is verlede week as kategoriewenners in die Eden-Karoo onderwysstreek aangewys en twee was naaswenners. Die distrikstoekennings is die eerste rondte om die beste opvoeders landwyd aan te wys. Die wenners is verlede Vrydagaand, 20 Junie, tydens ’n funksie by De Opstal aangekondig.

Opvoeders word deur hulle onderskeie skole benoem en deur ’n benoe-mingskomitee aan die departement voorgelê en gemotiveer. Opvoeders wat na die benoeming deur die departement vir onderhoude genooi word, moet ’n “PowerPoint”-aanbieding en motivering van 35 minute voor ʼn paneel lewer.

Die wenners van elke kategorie in die distriksrondte dring deur na die provinsiale toekennings later vanjaar. Die provinsiale wenners gaan op hulle beurt deur na die nasionale rondte waar die land se bestes in die onderskeie kategorieë aangewys word.

Mev Merike Davel is aangewys as die wenner in die kategorie, uitnemendheid in primêre skool onderrig. Sy is deur Van Reede Skool genonmineer waar sy verantwoordelik is vir die hulpbronneklas.

Alhoewel dit ʼn klas is vir leerders wat ondersteuning verg, volg sy die CAPS kurrikulum wat in die hoofstroom gevolg word. Dit is ’n uiters uitdagende pos aangesien sy in een klas leerders tussen tussen die ouderdom van 10 tot 14 jaar op vyf verskillende vlakke en in Afrikaans en Engels moet onderrig.

Sy het haar onderwysloopbaan in Citrusdal begin en is die afgelope drie jaar by Van Reedeskool wat voorheen ’n primêre skool was, maar tans elke jaar een graad byvoeg om uiteindelik ook matrieks te hê.

Die skool strek tans tot by Graad 10. Davel se man, Henlu is ook ’n opvoeder by dieselfde skool.

Oudtshoorn Vaardigheidskool se waarnemende adjunkhoof, Alsje Schoeman, is ook een van die distrikwenners. Sy is aangewys as die wenner in die kategorie vir uitnemendheid in spesiale behoefte leierskap. Nadat sy in 2009 haar onderwysloopbaan in die Kaap begin het, is sy sedert 2018 by Oudts-hoorn Vaardigheidskool.

Sy is die departementshoof vir akademie, maar het die afgelope drie jaar verskeie kere as adjunkhoof waargeneem. Sy neem ook volgende kwartaal as skoolhoof waar aangesien Gavin Block hierdie week aftree.

Die nuwe hoof, neem eers in Oktober sy pos in. Schoeman sê opvoeders word deur hulle skole ingelig dat hulle vir toekennings genomineer is en dat hulle ’n aanbieding van 35 minute moet voorberei.

“Na die aanbieding wat in Engels geskied, is daar nie enige aanduiding dat iemand ’n finalis is nie, die wenners en naaswenners word eers die aand by die toekenningsgeleentheid aangekondig,” verduidelik sy.

Nog ’n opvoeder van Oudtshoorn Vaardigheidskool het ʼn toekenning ontvang. Riaan Swart, wat sowat 8 jaar in die onderwys is en slegs 18 maande by Vaardigheidskool is, is aangewys as die naaswenner in die kategorie, uitnemendheid in tegnologie-bevorderde onderrig.

Swart verduidelik dat dié skool, sover hy weet, die enigste vaardigheidskool is wat dekodering en robotika as deel van die kurrikulum aanbied.

Hy het dié tegnologie aanvanklik as ʼn buitemuurse aktiwiteit aangebied, maar sedert die begin van die jaar is dit in elke klas deel van die skool se kurrikulum vir IKT (inligting, kommunikasie en tegnologie).

Een van Hoërskool Oudtshoorn se opvoerders, Vivo Venter, het ook ’n toekenning ontvang. Sy is aangewys as naaswenner in die kategorie, uitnemendheid in sekondêre skool onderrig.

Me Venter het reeds 9 jaar ondervinding in onderwys en opleiding. Sy is die afgelope 4 jaar verbonde aan Hoërskool Oudtshoorn waar sy Geografie van graad 8 tot 12 onderrig.

Oor haar beroep sê sy: “Dis ongelooflik om deel te wees van ’n leerder se ontwikkeling en hulle op verskillende vlakke van graad 8 tot graad 12 te sien groei. Ek het die voorreg om met unieke jongmense te werk.” (HANNES VISSER)