Verwoesting in Joodse Begraafplaas

Meer as 30 grafstene is onlangs in die Joodse Begraafplaas op Oudtshoorn deur kwaaddoeners omgegooi. Dié vandalisme in die begraafplaas het internasionaal opslae gemaak in die Joodse gemeenskap. Foto's: Stefan Skapie Goosen

OUDTSHOORN se Joodse gemeenskap is met die hande in die hare nadat die Joodse Begraafplaas in Condorstraat die afgelope maand onder ’n vlaag vandalisme deurgeloop het.

Dit was vir Bernard Herman, hoof van die Oudts­hoorn Chevra Kadisha, ’n yslike skok toe hy op Vrydag, 14 Augustus, gesien het dat meer as 30 grafstene in die begraafplaas omgegooi is. Die meeste van dié grafstene is nou in stukke, middeldeur gebreek of opvallend beskadig.

Herman sê hy en ’n werknemer het dié dag in die begraafplaas na kindergrafte wat uit die 1918-griepepidemie dateer, omgesien.

“Ek het na my ouers se grafte toe geloop, en op pad soontoe twee grafstene in die voetpaadjie sien lê. Dit is toe ek nader kom dat ek die aaklige toestand van die grafte rondom my sien. Ek kon dit nie glo nie,” vertel hy.

Hy het begin tel, maar hy sê toe hy by sowat 33 gekantelde grafstene kom, wou hy net daar wegkom.

Herman het die afgelope week aan Die Hoorn gesê die grafstene is waarskynlik oor ’n tydperk van twee tot drie weke omgegooi.

“Dit lyk soos ’n slagveld… Dit maak ’n mens siek dat iemand so iets kan doen.”

Met Oudtshoorn wat eens op ’n tyd as die Klein Jerusalem bekend gestaan het vanweë die groot Joodse bevolking, is dié begraafplaas ryk aan ge-skiedenis, sê Herman.

Tussen 500 en 600 Joodse gesinne het hulle op Oudtshoorn gevestig tydens die opbloeitydperk van die volstruisbedryf. Die eerste groep families het in die middel van die 19de eeu hier aangekom. Joodse gesinne speel vandag nog ’n belangrike rol in die sake- en landbousektor, al is daar nog net agt families wat steeds hier gevestig is.

Volgens Herman sien die Joodse gemeenskap al jare lank op hul eie koste om na die begraafplaas.

“Dit maak my moedeloos om te dink wat ons nóg sal moet doen om die begraafplaas te beveilig. Al die lemmetjiesdraad wat ons ’n paar jare gelede op die muur om die begraafplaas gespan het, is afgebreek en gesteel. Ons moes ook ’n paar jaar gelede staaldeure by die geboutjie aanbring om mense daar uit te hou. Die groot begraafplaas hier langsaan is ook al verwoes. Dit raak net al erger.”

Die munisipale begraafplaas langsaan is inderdaad vol rommel en duidelik gereeld die teiken van vandaliste.

Herman sê dit gaan baie kos om die grafte en stene te herstel, maar vir eers sal hulle net plat neergesit word. “Ons sal graag wil hê dat familielede van mense wat hier begrawe is, ons kontak. Ek wil ook ’n beloning aanbied vir enige iemand wat kan help om die skuldiges te identifiseer.”

Die nuus oor dié vandalisme het intussen wyd en syd onder die Suid-Afrikaanse en internasionale Joodse gemeenskap versprei, met artikels wat reeds op webtuistes van onder meer die Jewish Telegraphic Agency, die Cape SA Jewish Board of Deputies, The Times of Israel en die Jerusalem Post verskyn het. (Deur Stefan Skapie Goosen)