Vervolging kom ná dood van Marilize

Die wrak van die BMW waarin Marilize se liggaam gevind is. Foto verskaf

DIE Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) het besluit dat die bestuurder van ’n BMW waarin die 18-jarige Marilize Nortier in die oggendure van 22 September 2019 gesterf het, vervolg moet word.

Die Oudtshoorn Polisie het die dossier met die beslissing verlede Vrydag van die DOV ontvang, digby ’n jaar ná haar dood. Die dossier is kort nadat die polisie-ondersoek die begin van die jaar afgehandel is, na die DOV ge­stuur vir ’n beslissing oor vervolging.

Ma­rilize het verdrink toe die BMW waarin sy ’n passasier was, die pad verlaat en in ’n watersloot langs die Kango Grotte-pad te lande gekom het. Sy was steeds vasgegordel in die passasiersitplek toe die motor uit die water getrek is.

Die bestuurder van die BMW was nie in daardie stadium op die toneel nie. Hy het op aanbeveling van sy prokureur nie ’n verklaring oor die voorval afgelê nie.

Volgens kapt Louis Visser, polisiewoordvoerder, sal die bestuurder volgens die Padverkeerswet vervolg word vir strafbare manslag, alternatiewelik roekelose of nalatige be­stuur, en die versuim om hulp te verleen ná ’n bot­sing.

Die Hoorn het op 10 September berig dat geen besluit nog geneem is oor moontlike vervolging nie en dat die saak voortsleep. “Dit is van alles wat gebeur het vir my die moei­likste, die ergste van alles,” het Marilize se pa, Morné Nortier, toe aan Die Hoorn gesê.

Hy het Maandag gesê hy is baie bly dat die saak nou uiteindelik sal voortgaan. (Deur Liesel le Roux)