Vermoor, pa van 5

Bo: Kerneels Martinus (41). Foto verskaf

Nog ’n moord in die Klein Karoo het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

’n Pa van vyf, Kerneels Martinus (41) is in die oggendure van Sondag, 19 November, omstreeks 02:00 by sy huis in De Rust met ’n mes gesteek.

Hy en sy lewensmaat, wat tans in aanhouding is, was na bewering in ’n argument betrokke toe sy hom met ’n mes gesteek het.

“Die oorledene het ’n steekwond aan sy bors opgedoen en is later deur die paramedici op die toneel dood verklaar. ’n 46-jarige vrou is tans in polisie-aanhouding en sal in die hof verskyn sodra ’n klag teen haar gelê word”, het sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie in ’n verklaring aan Die Hoorn gesê.

Die Hoorn het met Martinus se familie kontak gemaak, maar hulle wil nie op die stadium uitbrei oor die voorval nie.

Leon Champher, Oudtshoorn Raadslid, gemeenskapsleier en stigter van die OCAC (Oudtshoorn Community Against Crime), het die voorval ten sterkste veroordeel en gepleit dat gemeenskappe en inwoners moet opstaan om misdaad hok te slaan.

“Hierdie voorval was nóg skoknuus nadat ons reeds verskeie pogings aangewend het om moorde in Oudtshoorn, wat sedert Januarie die hoogtes ingeskiet het, te voorkom,”

Daar sal Woensdag 29 November ’n kransleggingsdiens by Martinus se huis in De Rust, die toneel waar hy gesterf het plaasvind.

Martinus se moord bring die getal moorde in en om Oudtshoorn in 2023 reeds tot 19, nadat Sheldon Fortuin (18) ’n leerder van Hoërskool Môrester, op 28 Oktober in die dorp aangerand en vir dood agtergelaat is.

Hy het op 12 November aan sy beserings beswyk.

Daar is ook steeds geen nuwe inligting beskikbaar oor drie uit vier tref-en-trap-voorvalle vanjaar, waar drie persone gesterf het, en een ernstige beserings opgedoen het nie.

Op 28 Oktober is Sharlaine Lamont (18) ook van Hoërskool Môrester, en haar kêrel Ralston Bezuidenhout in Dassieweg raakgery.

Lamont is later aan haar beserings oorlede.

Booi Okkers (72) is op 27 Oktober, op die N12 by Van Wykskraal deur ’n motor getref, ’n verdagte is in hegtenis geneem.

Piedro Klaasen (24) is op 25 Februarie vanjaar ook in Dassieweg oorlede na hy deur ’n motor raakgery is, en die bestuurder van die toneel af weggery het.

Die bestuurders van twee van die voorvalle is steeds soek. (Deur Lindi Brill)