Vermis en vermoor voor viering van sy aftrede en 60ste verjaarsdag

Wyle Eric Xakaxa (59).

HY was ’n saggeaarde en gelowige man. So het mense vandeesweek vir Mlungiseleli Eric Xakaxa (59) onthou. Xakaxa se lyk is Vrydag­aand (8 April) in ’n vlak graf onder twee yskaste in die erf agter sy huis in Xolastraat gevind, twee dae nadat hy as vermis by die Polisie aangemeld is.

’n Lykskouing Maandagoggend het aangedui dat Xakaxa verskeie steekwonde voor sy dood opgedoen het.

Patrick Rondganger (35) het Maandag in die Oudts­hoorn Landdroshof op aanklag van moord verskyn. Rondganger, ’n vriend van die oorledene se dogter, het reeds Vrydagaand ’n bekentenis afgelê.

Die polisie het verlede Donderdag (7 April) inwoners van Oudtshoorn gevra vir inligting oor Xakaxa nadat hy glo Woensdagoggend – ’n dag voor sy 60ste verjaarsdag – werk toe is en nie daar opgedaag het nie.
Xakaxa wat jare lank by Brian’s Grill en Karoopot gewerk het en ’n bekende op die dorp is, is egter waarskynlik reeds Woensdag vermoor.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die polisie Xaxaka se huis besoek in ’n poging om hom op te spoor. Verskeie forensiese kundiges en die K9-eenheid (honde-eenheid) was ook op die toneel om te help met die soektog.

Rondganger is Vrydag hier in hegtenis geneem.

’n Bestuurslid van Brian’s Grill en Karoopot, wat gevra het om anoniem te bly omdat die span by albei restaurante steeds Xakaxa se moord moeilik verwerk, sê die bestuur en personeel van die restaurante sou op die dag wat Xakaxa as vermis aangemeld is, sy 60ste verjaarsdag en aftrede saam met hom gevier het.

“Ons was nog besig om ballonne reg te kry toe ons die oproep van die Polisie ontvang.”

Sy sê Xakaxa was vir meer as ’n dekade ’n staatmaker by die restaurante, en ook voor dit by die destydse Lemon & Lime.

“Eric het alles by ons gedoen. Dit is eintlik moeilik om sy werksbeskrywing te beskryf. Hy het loodgieter gespeel en ons bankies en tafels reggemaak. Hy kon enigiets doen!”

“Hy was ’n lieflike mens – die laaste mens wat so iets verdien het.”

• Talle mense het vandeesweek hulde gebring aan Xakaxa, ook op Die Hoorn se Facebook-blad.

Christolene Caroline Stuurman skryf: Oom Eric jy’t dit nie verdien nie. Daai sagte stem hoor ek nou nog in my kop. Baie liefde. Volle mens gewees.

Gillian Carolus skryf: Ai, dit is bitter seer. Eric het saam met my by Foundation Christian School gewerk.

Die mees saggeaarde mens wat jy kon teëkom. Vriendelik, bedagsaam, nederig en die sagste stem. Jare nadat ons nie meer saamgewerk het nie, het Eric ons nog steeds vriendelik gegroet waar ons hom kry en altyd na my welstand gevra. Eric was lief vir die Here, sy kerk, hul gemeente en hy het enige persoon wat op sy pad kom vriendelik gegroet… Dit was sy sagtheid wat Eric so spesiaal gemaak het. Sag rus, Eric.

• Garnett Wicomb berig dat die saak teen Rondganger Maandag deur landdros Ntombi­zandile Maseti vir ’n formele borgaansoek uitgestel is tot Dinsdag 19 April. (Deur Liesel le Roux)

1 Comment on "Vermis en vermoor voor viering van sy aftrede en 60ste verjaarsdag"

  1. Naykie | 16/04/2022 at 10:58 |

    Geen borg aan Patrick rondganger. Asb hy is harteloos

Comments are closed.