Verkeersbeamptes vereer vir aandeel om moordenaar vas te trek

Bo van links is: Raadslid Leon Campher, Jean-Pierre Viviers, Paul Stassen en die uitvoerende burgemeester, Johan Allers. Foto’s verskaf. Onder van links: Die moordslagoffer, Abraham Hermadien en regs Die veroordeelde moordenaar, Francisco Erasmus.

Twee verkeersbeamptes van die provinsiale verkeersdepartement is verlede week deur Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Johan Allers, vereer vir hulle rol om ’n moordenaar vas te trek en hom deur die hof tot lewenslange tronkstraf te laat vonnis.

Die twee beamptes, Paul Stassen en Jean-Pierre Viviers was op patrollie tussen Dysselsdorp en Oudtshoorn in Maart 2023 toe hulle ’n motor voorgekeer het omdat dit gelyk het asof daar met die nommerplate gepeuter was.

Die bestuurder van die motor, wat op daardie stadium soos ’n moslem-vrou aangetrek was, het aan die twee beamptes gesê dat die passasier ernstig beseer is en dringend by die hospitaal moet kom. Die twee beamptes was op daardie stadium nie bewus daarvan dat die bestuurder, Francisco Erasmus, self verantwoordelik was vir verskeie steekwonde wat die passasier opgedoen het nie. Hulle het die motor laat ry, maar dadelik ’n padblokkade gereël om die motor voor Oudtshoorn voor te keer.

By die padblokkade is vasgestel dat die passasier aan verskeie steekwonde beswyk het. Die polisie het die mes waarmee die wonde toegedien is, in die motor gevind. Die passasier was Abraham Herandien, ’n veewagter van Dysselsdorp.

Met die ondersoek is bevind dat Erasmus ’n lewenspolis op Herandien se lewe uitgeneem het, hom onder vals voorwendsels met ’n gehuurde motor in Dysselsdorp opgelaai het en hom onderweg na Oudtshoorn 12 keer met ’n mes gesteek het. Erasmus is verlede maand deur streeklandros Ntsoki Moni, tot lewenslange tronkstaf gevonnis.

Die burgemeester het op Dinsdag 24 Junie die twee verkeersbeamptes in sy kantoor ontvang en ’n spesiale brief van gelukwensing en dank aan hulle oorhandig. Hy het die beamptes geloof vir hulle waaksaamheid en toegewyde diens aan die gemeenskap.

“Dit is met groot waardering dat ek kennis geneem het van u bepalende rol in die arrestasie van ’n vermeende moordenaar. U skerpsinnigheid, professionaliteit en vinnige optrede het nie net tot ’n belangrike arrestasie gelei nie, maar ook weereens bewys dat ons inwoners op die geregtigheidstelsel en sy amptenare kan staatmaak. U voorbeeld van diens en geregtigheid bring hoop en vertroue. U verteenwoordig alles waarvoor ’n openbare dienswerker behoort te staan – integriteit, verantwoordelikheid en ’n opregte verbintenis tot die veiligheid van ander.”

Hy het bygevoeg dat die streek trots kan wees om hulle as deel van die breër veiligheidsnetwerk te hê en dat hulle met hulle optrede moet voortgaan om ander mense aan te moedig.

Raadslid Leon Campher het die geleentheid ook bygewoon. As deel van die organisasie Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC), het hy die saak teen Erasmus die afgelope twee jaar gevolg en hy en lede van OCAC was ook verlede maand in die hof toe Erasmus gevonnis is. (HANNES VISSER)