Vere uit die Grootvoëlparadys pronk al te pragtig in Parys…

Die bekende en gewilde sangeres, Lady Gaga, het verlede Vrydag tydens die opening van die Olimpiese Spele 2024, gepronk in die mooiste wit, swart en pienk vere, al die pad van Oudtshoorn. Sy het tydens haar vertoning die bekende 1961 Franse lied 'Mon Truc en Plumes' van Zizi Jeanmaire gesing. Dit beteken: “My Thing with Feathers”. Onder is Zizi Jeanmaire tydens ’n repetisie van haar lied “Mon Truc en Plumes” Foto’s: Lady Gaga Facebook en AFP via Getty Images

Oudtshoorn se volstruisvere het oral oor die wêreld, en verskeie sosiale media platforms, mense na hul asems laat snak, tydens die openingseremonie van die 2024 Olimpiese Spele, wat Vrydag in Parys plaasgevind het.

Afgesien van die omstredenheid oor sekere elemente van die opening, het Oudtshoorn geskitter op daardie wêreldverhoog.

Lady Gaga wat Zizi Jeanmaire se ‘Mon Truc en Plumes’ gesing het, het in ’n skuim van wit, swart en spookasempienk pluime, afkomstig van Oudtshoorn, verskyn – net soos Jeanmaire, die bekende Franse ballerina, se vere uitrusting voor haar in die 60’s.

Die groot modehuise gebruik al meer as ’n eeu volstruisvere, en later volstruisleer. Hierdie produkte word deur werknemers van verskeie plase en besighede in Oudtshoorn verwerk, en word die materiaal vervaardig en uitgevoer na verskeie dele van die wêreld. Dit word dan gebruik in uitrustings, gemaak deur die bekendste handelsmerke, en word deur bekende sangers en akteurs op die rooi tapyt gedra.

Volgens Carel Haroldt, van Ostrich Products South Africa, is die meeste van die pragtige vere wat in die opening te sien was, afkomstig van Oudtshoorn.

“’n Gedeelte van die vere is afkomstig van Cape Karoo International asook vanaf Ostrich Products South Africa (die Saag Jonker-groep). Dit is baie goed vir die dorp en oor die algemeen vir die verebedryf van Oudtshoorn”, het hy aan Die Hoorn gesê.

Verskeie foto’s is deur Haroldt aan Die Hoorn verskaf, en is gestuur deur hul kliënt uit Frankryk uit, wat die vere vir die openingseremonie moes verskaf.

“Hello Carel, these are some of the photos from today’s event. Thank you for the quality feathers”, het sy boodskap aan Heroldt gelees.

Peter Liebenberg, hoof van CKI Vere-afdeling sê: “Ons was verbaas en oorweldig om die pragtige volstruisvere tydens die openingseremonie van die Olimpiese Spele te sien, die rok wat Lady Gaga by die geleentheid in Parys gedra het is deur Dior ontwerp, maar die vere is deur ‘n klient uit die Chanel-stal by Cape Karoo International (CKI) vir die mode huis bestel.

Hierdie kliënt doen al vir meer as 3 dekades besigheid met CKI en verskaf mode- produkte en uitrustings aan al die bekende handels-merke in Europa”. Hoewel CKI groot volumes vere aan hierdie kliënt sowel as al die ander modehuise in Europa voorsien het die afgelope jaar, is CKI nooit ingelig oor die projek nie. Die modehuise deel geen inligting met verskaffers voor die bekendstelling van ‘n reeks, ontwerp of die geleentheid waarvoor die uitrusting vervaardig word nie.

Liebenberg sê ver-der dat hulle ongelooflik trots is daarop om deel te kon wees hiervan. (Deur Lindi Brill)