Ondersoekeenheid slaan toe op Verkeersafdeling

Die Groter Oudtshoorn Munispaliteit het vanmiddag bevestig dat ‘n aantal amptenare gister (Vrydag 18 Februarie) by die munisipale verkeersafdeling in hegtenis geneem is, klaarblyklik deur ‘n provinsiale ondersoekspan.

Die burgemeester, Chad Louw, en die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, was nie bewus van die ondersoek by die verkeersafdeling nie, en het, volgens die munisipale woordvoerder Aurelia Mle, eers na die inhegtenisnames daarvan te hore gekom.

“Die munisipaliteit sal saamwerk ten opsigte van enige inligting wat benodig word, en ook interne tugprosedures volg,” het Mle bygevoeg.  

Die munisipaliteit het aangedui dat hulle nie tans persoonlike inligting oor die amptenare wat in hegtenis geneem is, kan verskaf nie.

Volgens inligting wat Die Hoorn ontvang het, hou die inhegtenisnames verband met die uitreiking van rybewyse en leerling-rybewyse en is ten minste ses amptenare in hegtenis geneem, maar Die Hoorn wag nog op bevestiging hiervan. Die berig sal opgedateer word soos nuwe bevestigde inligting ontvang word. (Deur Liesel le Roux)