Uitdagende koalisieregering wag op die Groter Oudtshoorn

Vrolike ANC-ondersteuners gee Maandag­og­gend hul vreugde voor die Oudts­hoorn munisipale gebou in Voortrekkerweg te kenne met die agt wyke wat die party verower het. Op die plakkaat staan RIP DA. Foto: Stefan Skapie Goosen

Vyf van Oudtshoorn se nuwe raadslede

Inwoners wat waarskynlik op pad is raad toe, is bo van links oud-burgemees­ters Chris Mac­pherson (DA), Vlan­cio Donson (Icosa) en Colan Sylvester (OGI), en nuwelinge Johan Duvenage (VF Plus, links) en Leon Camp­her (Ad­vieskantoor, regs).

Hierdie is ’n opgedateerde weergawe van ’n berig wat op 4 November 2021 in die gedrukte weergawe van Die Hoorn verskyn het. Die syfers in dié berig is vanoggend deur die OVK aan die woordvoerder van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, Ntobeko Mangqwengqwe, bevestig.

KOALISIEREGERING is die Groter Oudtshoorn se voorland nadat geen party in Maandag se munisipale verkiesing ’n volstrekte meerderheid kon behaal nie.

’n Uitdagende koalisieregering wag dus op Oudts­hoorn nadat inwoners se stemme ook na talle kleiner partye gegaan het, met baie van die nuutverkose raadslede wat geen vorige raadsondervinding het nie.

Raadslede van nege partye is tot die raad verkies en sal oor die volgende vyf jaar moet saamwerk om die munisipaliteit te bestuur. Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se webtuiste is die finale verdeling van raadslede onder die partye soos volg:

Die ANC het die meeste raadslede (8) nadat die party 8 van die 13 wyke gewen het. Die party se stempersentasie was 27,72%.

Die DA het die tweede meeste aantal raadslede (7) nadat die party 4 wyke gewen het en 3 proporsionele raadslede op grond van sy persentasie stemme (30,06%) bygekry het .

Die VF Plus het 3 raadslede – een wyksraadslid en 2 proporsionele raadslede met ’n stempersentasie van 12,07%.

Ses ander partye het op grond van hul persentasie stemme proporsionele raadslede wat op die raad dien, naamlik Icosa (6,58%; 2 raadslede), en een raadslid elk vir die Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief – OGI (5,33%), Good (4,22%), die Advieskantoor (3,68%), Patriotic Alliance – PA (3,49%) en Suid-Kaap Saamstaan (1,62%).

Onder die partye wat nie die raad gehaal het nie, is die EFF wat slegs 1,34% van die stemme gewen het, Sarco met 1,17% en die ACDP met 0,95%.

Ses partye word die eerste keer op die Oudtshoorn-raad verteenwoordig, naamlik die VF Plus, die nuutgestigte OGI wat ontstaan het nadat oud-burgemeester Colan Sylvester in 2020 uit die raad bedank het, Good, die Advieskantoor van die Dysselsdorp-gemeenskapsleier Leon Campher, die PA en Suid-Kaap Saamstaan.

So word ’n koalisie gevorm
Om ’n meerderheid in die Oudtshoorn-raad van 25 raadslede te kry om enige besluit deur te voer, moet 13 raadslede (dus ’n meerderheid) ’n voorstel steun. Daar sal dus na verwagting in die volgende dae indringende onderhandelings tussen van die partye plaasvind om koalisies te sluit wat uit ten minste 13 raadslede sal bestaan.

Tydens dié onderhandelings kan die gesogte poste van burgemeester en speaker ’n belangrike onderhandelingspunt raak. In die verlede het kleiner partye dikwels die posisie van burgemeester en/of speaker geëis voordat hulle ingestem het tot samewerking. Die moontlikheid kan seker ook nie uitgesluit word dat die twee groter partye, die DA en die ANC, mag besluit om die raad saam te beheer nie.

Die eerste vergadering van die nuwe raad waar ’n burgemeester, onder-burgemeester en speaker verkies sal word, vind volgende Woensdag (10 November) plaas.

Wie is Oudtshoorn se nuwe raads­lede?
Volgens die partye se kandidatelyste wat die OVK Woensdag aan Die Hoorn verskaf het, is die meerderheid raadslede wat verkies is nuut in dié tuig. Die volgende name verskyn op die kandidatelyste:

Die agt wyksraadslede van die ANC wat verkies is, is Nomsa Jaxa (Wyk 4), Abraham Tiemie (Wyk 5), Dora Moos (Wyk 6), Mziwoxolo Tyatya (Wyk 8), Chad Louw (Wyk 9), Liluth van Rooyen (Wyk 10), Jan van der Ross (Wyk 11) en Joey Canary (Wyk 13).

Die vier wyksraadslede van die DA wat verkies is, is Johan Fourie (Wyk 1), James du Preez (Wyk 3), Anel Berry (Wyk 7) en Raymond Wildschut (Wyk 12), terwyl die DA se drie proporsionele raadslede Chris Macpherson, Rayno April en Jerome Lambaatjeen is.

Die VF Plus sal op die raad verteenwoordig word deur Johan Duvenage wat in Wyk 2 tot raads­lid verkies is en die proporsionele raadslede Johan Allers en Christina Muller.

Icosa se twee proporsionele raadslede is Vlancio Donson en Barbara Owen, terwyl die OGI deur Colan Sylvester, Good deur Sonia Bentley, die Advieskantoor deur Leon Campher, die PA deur André Rondganger en Suid-Kaap Saamstaan deur Mandleli Nyuka verteenwoordig sal word.

Icosa weer die wenner in Kannaland
In Kannaland het Icosa, soos in die 2016-verkiesing, weer as die groot wenner uit die verkiesingstryd getree; die keer met 45,2% van die stemme. wat vir die party drie van die sewe raadsetels gee. Die ANC met 21,52 % van die stemme het twee raadslede, die DA met 20,52% van die stemme het een raadslid en die Kannaland Independent Party met 7,49% ook een raadslid.

Lees meer oor Kannaland se uitslae https://www.diehoorn.com/nuus/wie-gaan-septer-swaai-in-kannaland/. (Deur Liesel le Roux)