Na bykans drie weke se gewoel en werskaf en onder Joost Pyck se kundige ambagsmanhande is die gedeelte van Tuishuis se gewel weer byna volledig.
Die gedeelte wat Joost gemaak het om die beskadigde stuk te vervang, is Woensdagmiddag met moeite en spierkrag in plek gekry. Die blok sandsteen wat heelwat meer as 100 kg weeg, is met versigtigheid en trapsgewys teen ’n steier uitgelig terwyl omstanders asem opgehou het.
Met die stuk in plek is Joost se volgende taak om dit af te werk om presies by die oorspronklike gewel te pas. Daarna moet dit vasgemessel word en ’n stuk wat as voorsorg verwyder is, moet weer ingevoeg word.
Oudthoorn Heritage Erfenis (HOE), het Joost gekontrakteer om die herstelwerk aan die gewel te doen.
Hy het meer as drie weke gelede ’n sandsteenblok buite Oudtshoorn gekry en ’n gedeelte wat hy vir sy beeldhouwerk moes gebruik, afgekap. Sedertdien was Joost vir twee weke elke dag voor Tuishuis besig om ’n replika van die beskadigde gedeelte te maak. Hy het die werk Maandag afgehandel en Woensdag kon die voltooide stuk in plek geplaas word.
Volgens Hazel Jonker van HOE het die vereniging net genoeg geld gehad vir die werk wat tans gedoen word, maar dat hulle graag die hele sandsteen fasade wat agter die gewel is, ook wil laat restoureer.
“Dit gaan ons egter ongeveer R10 000 kos, en ons hoop werklik dat Oudtshoorn se gemeenskap ons hande hiermee sal vat,” het sy gesê. Die oogmerk van HOE is om die erfenis van Oudtshoorn te bewaar en restourasieprojekte soos die een by Tuishuis te loods.
Volgens Joost sou sy finle afronding en vasheg-ting teen vandag, Vrydag 27 September, heeltemal voltooi wees. Hy keer nie dadelik terug na sy woning in Klapmuts nie, aangesien hy deur ’n huis-eienaar genader is om met herstelwerk aan ’n sandsteenmuur by haar huis te help.
Hy hou ook op 7 Oktober, ’n bekendstelling van sy boek, Sprokkels 2, wat tans gedruk word. (Deur Hannes Visser)
Be the first to comment on "Tuishuis se klip veilig in plek"