Transitorowers binne 35 minute vas!

The scene of the heist. Photo: Stefan Skapie Goosen

DRIE transitorowers is Maandag binne 35 minute nadat hulle ’n Fidelity Cash Solutions-geldwa en sekuriteitswag in Bridgton, Oudtshoorn, beroof het, op die Outeniquapas tussen Oudtshoorn en George vasgetrek.

Die mans, tussen 26 en 41 jaar oud, is omstreeks 11:50 deur die Valke se Ernstige Georganiseerde Misdaadondersoekspan in hegtenis geneem nadat hulle omstreeks 11:15 kontant en die vuurwapen van ’n Fidelity-sekuriteitswag geroof het.

Die wag was tydens die rooftog besig om geld wat uit ’n kluis by die Atlantic Oil-vulstasie gehaal is, in die geldwa te laai.

Die Hoorn kon vasstel dat ’n bedrag van R86 690 geroof is.

Die Bridgton Polisiekantoor is ’n klipgooi van die vulstasie geleë.

Die misdaadondersoekspan van George het op die Outeniquapas ’n silwer Nissan Sentra opgemerk wat voldoen het aan die beskrywing van ’n voertuig wat by die roof betrokke was.

Volgens Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, is die Nissan Sentra voorgekeer en die drie mans in hegtenis geneem. In die voertuig is twee 9 mm-pistole, waarvan een die Fidelity-wag s’n was, en ’n sak met die gesteelde kontant gevind.

Hani sê die sekuriteitswag is deur twee mans aangeval toe hy met die geld na die sekuriteitsfirma se gepantserde voertuig teruggekeer het.

Die drie verdagtes, Masixole Dolomba, Simphiwe Matwa en Lwandiso Lento, het gister in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn op aanklagte van roof met verswarende omstandighede. Hulle is almal van Thembalethu, George

Die saak teen Dolomba is tot 28 Julie uitgestel vir die aan­stel van ’n regsverteenwoordiger, terwyl Mat­wa en Lento op 3 Augustus moet verskyn vir hul borgaansoek. Al drie bly in aanhouding.

“Ek dink almal is nog geskok. ’n Mens verwag nie so iets nie, veral nie oorkant ’n polisiekantoor nie,” het Duane Marais, bestuurder by Atlantic Oil, Dinsdag aan Die Hoorn gesê. Volgens Marais is sy personeel nie deur die ro­wers bedreig nie, maar het hulle wel vir hul veiligheid gevrees.

Hy sê die Fidelity-wag het soos gewoonlik die sak geld uit die vulstasie se “drop safe” kom haal en met ’n nuwe sak vervang. Die wag het met die sak uitgestap, en omdat die voertuig met sy neus na die winkel geparkeer was, moes die wag om die voertuig stap om die sak agterin te plaas. Die deur was volgens Marais reeds deur die bestuurder van die Fidelity-voertuig oopgesluit.

Marais sê in daardie stadium het twee voertuie, ’n wit Toyota Tazz en die Nissan Sentra wat deur die Valke voorgekeer is, reeds oorkant die pad in Springbokweg gestaan.

“In daardie stadium was hulle glad nie verdag nie, want dit kon mense gewees het wat by enige van die ander winkels aankope gedoen het – daar staan gereeld voertuie daar.

“Net toe die wag die sak agterin die voertuig wou plaas, was twee mans met wapens by hom. Hulle het van daai maskers aangehad wat mens om jou nek dra en net oor jou mond en neus trek. Net hul oë het uitgesteek.”

Volgens Marais het alles daarna baie vinnig gebeur. Sy personeel het hulle in ’n koeëlvaste-hokkie by die vulstasie toegesluit toe hulle die gewapende mans opmerk.

“Die rowers het die wag teen die geldwa vasgedruk, die geld, sy vuurwapen en sy foon gesteel, en hom geboei. Hulle is terug na hul voertuie en af in Springbokweg. Ons het die Polisie onmiddelik gekontak en hulle, sowel as Suiderkruis Sekuriteit, was vinnig op die toneel,” het Marais vertel.

Een van Marais se personeellede wat gevra het om anoniem te bly, sê hy en sy kollegas het ook die twee voertuie opgemerk.

“Die Tazz het gelyk soos ’n oorlede oom, wat ek geken het, se ou karretjie, en toe gesels ons nog oor die kar en die oom. Ewe skielik spring so ’n klein dik mannetjie uit die kar met ’n geweer en hardloop na die wag toe.

“Daar was toe reeds ’n ander skraal man wat op die hoek van die vulstasie ge­staan en wag het. Hy druk toe ’n geweer teen die wag se kop, terwyl die kort ene die geld kom haal het.”

Volgens dié werknemer het hy en sy kollegas gevrees vir hul lewens. “Ons is nou nog bekommerd oor ons veiligheid. Wat as hulle of hul mense terugkom? Ons het families,” het hy gesê.

Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van die Fidelity Services Group, sê in ’n persverklaring dat sy wagte deur drie gewapende mans genader is toe die wagte die geld by die vulstasie afgehaal het, waarna die geld gesteel is.

Volgens Bartmann kon Fidelity ’n gedetailleerde beskrywing van die drie verdagtes aan die Polisie gee. “Gelukkig is niemand in die voorval beseer nie en die geldsak is sonder enige verlies opgespoor. Dit is ’n uitstekende voorbeeld van hoe privaatsekuriteit doeltreffend met die Polisie kan saamwerk, en ons is vol lof vir al die partye wat tot hierdie inhegtenisnemings bygedra het.” (Deur Stefan Skapie Goosen)

Be the first to comment on "Transitorowers binne 35 minute vas!"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*