Transitoroof: Hof sê nee vir borgtog

Sakhele Themba­lekhaya Nkabi (36), ’n weermagkap­tein, is een van die verdagtes aan wie borgtig geweier is. Foto verskaf

Deur Garnett Wicomb

BORGTOG is Vrydagoggend (27 Augustus) in die Oudtshoorn Landdroshof geweier aan die vier verdagtes in die transitoroofsaak by ‘n vulstasie in Bridgton, Oudtshoorn. Tydens die rooftog op 19 Julie is ‘n sekerheidswag van sy vuurwapen en R86 000 kontant beroof.

Landdros Marvin de Vos het in ‘n lang uitspraak waartydens hy uit verskeie vorige soorgelyke sake aangehaal het, bevind dat die vier beskuldigdes, Simphiwe Matwa, (41), Lwandiso Lento (36), Masixole Dolomba (27) en Sakhele Nkabi (36 ), ‘n weermagkaptein, nie vrygelaat kan word nie omdat hulle met staatsgetuies kan inmeng en ook verbind word met vorige soortgelyke misdade in die Suid Kaap. Hulle is almal van George.

Die vier mans staan tereg op klagtes van roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van van ‘n vuurwapen en ammunisie asook die onwettige besit van ‘n ongemagtigde vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is.

Matwa, Lento en Dolomba is nog dieselfde dag van die voorval in hegtenis geneem, terwyl Matwa op 23 Julie in hegtenis geneem is.

Die vier se regsverteenwoordigers, adv Zukile Mqulo en Bulelani Bans, het die hof versoek om borgtog toe te staan omdat die verdagtes nie sal vlug nie en enige borgvoorwaardes sal nakom. Die staatsaanklaer, adv MP Heyns, het borgtog teengestaan omdat die beskuldigdes staatsgetuies kan probeer beïnvloed en moontlik kan vlug.

Landdros Marvin de Vos het bevind die beskuldigdes het besluit om hulle nie teen die aantygings van die ondersoekbeampte te verdedig nie en in plaas daarvan verklarings aan die hof voorgelê. Hy het gesê Matwa, Lento en Dolomba het nie van die geleentheid gebruik gemaak om te verduidelik waarom hulle in besit was van die vuurwapens en geld nie, terwyl Nkabi nie verduidelik het hoe sy uniform in die Sentra beland het en sy vingerafdrukke op albei voertuie gevind is nie.

Die hof het bevind dat die staat ‘n sterk prima facie saak teen die beskuldiges het met ‘n minimum vonnis van 15 jaar tronkstraf wat opgelê kan word indien hulle aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind word.

“:Om borgtog toe te staan sal ‘n skok wees vir die gemeenskap en daarom is dit in belang van geregtigheid dat die beskuldigdes in aanhouding bly,” het die landdros gesê.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers het na die hof se uitspraak kennis gegee dat hulle van voorneme is om teen die weiering van borgtog sal appelleer. Die saak is vir verdere ondersoek tot 18 September uitgestel.