Tragiese einde tydens staptog toe stapper sterf

Bo: Annamarie Roeloffze (55) is Saterdag tydens ’n staptog in die Gamkaberg Natuurreservaat oorlede aan ontbering. Foto verskaf Onder: Die foto van Annamarie (voor) is die oggend van die staptog geneem. Foto verskaf

’n Naweek wat met ʼn staptog in die natuurskoon van die Gamkaberg Natuurreservaat begin het, het in ʼn tragedie vir die Roeloffze-familie van Oudtshoorn geëindig toe Annemarie Roeloffze (55) tydens die staptog aan ontbering gesterf het.

Annemarie en haar man, Kruge, het die vorige naweek die 21 km Kango-halfmarathon voltooi. Hy het gedraf en sy het gestap.

Die egpaar stap gereeld en was verlede naweek deel van die Klein Karoo Voetslaanklub se naweekstap in die reservaat. Annemarie het aan ontbering beswyk na ongeveer 10 km op die roete wat 13 km vir die dag sou wees.

Kruge en hulle dogter Suné (26) het Dinsdag die tragedie met Die Hoorn gedeel. Volgens Kruge was hulle ’n groep van agt stappers wat om 08:00 Saterdagoggend in die pad geval het. Na 7 km het die groep middagete genuttig.

“Ek het vooruit gestap en Annemarie het in ’n kleiner groep na ons begin stap. Daar is ʼn gedeelte van die roete wat steil klim. Dit was baie warm en die humiditeit was hoog, maar ek het geweet Annemarie is fiks en sy het genoeg water by haar.”

Nadat Kruge die oornaghut bereik het, het van die ander stappers aangekom en gevra of Annemarie daar was, want sy het vooruit gestap, maar hulle het haar rugsak op ’n stadium in die voetslaanpad sien lê. Hulle het in die area gesoek, maar toe hulle haar nie kry nie het hulle aangeneem sy is sonder haar rugsak na die eindpunt. Kruge en nog ’n stapper het ongeveer 3 km teruggedraf tot by Annemarie se rugsak en na haar begin soek.

“Ons het Annemarie na omtrent ’n uur se soektog gekry. Sy het om een of ander rede ongeveer 50 m van die paadjie afgedwaal en die ander stappers kon haar nie sien nie.”

Cape Nature is verwittig en Kruge moes die moeilike taak verrig om sy dogters en naasbestaandes in kennis te stel dat Annemarie oorlede is. “Ek het by haar gebly totdat hulle haar eers teen ongeveer elfuur die aand kon kom haal het. Die nadoodse ondersoek het bevind dat sy aan ontbe-ring gesterf het. Sy het genoeg water gehad, maar nie genoeg gedrink nie.”

Annemarie was die ontvangsdame by dokter Douglas Seton se praktyk by Mediclinic Klein Karoo. Verskeie mense met wie Die Hoorn gepraat het, het hulle skok oor haar dood betuig en Kruge en Suné se herinne-ringe bevestig dat Annemarie onder almal geliefd was, groot empatie gehad het en werklik ’n passie vir haar werk met almal gedeel het. “Sy was net eenvoudig iemand wat vir almal omgegee het,” het Kruge gesê.

Dokter Seton sê Annemarie is “as ’n engel herroep vir hoër diens.” Hy beskryf haar as iemand met meegevoel, intuïsie, bekwaamheid, menslikheid en moed.

“Ek, Mariette en Anette het so tuis gevoel in ons kamers. Haar vriendelike glimlag het ons in die oggende verwelkom en in die aand gegroet. Sy los ’n yslike gaping in ons midde, maar ek verkies om te glo dat sy nou diens doen daarbo, waar sy tussen die engele hoort.”

Hannes Stegmann, bestuurder van Mediclinic Klein Karoo, het gesê Annemarie se dood laat ʼn groot leemte by die kliniek.

“Sy was baie geliefd onder al die personeel. Ons mis haar vriendelike gesig in die hospitaal en by Dr Seton se spreekkamer. Sy was sekerlik een van die vriendelikste en hulpvaardigste mense en het soveel empatie vir haar pasiënte en kollegas gehad.”

Annemarie en Kruge het vier jaar gelede na Oudtshoorn verhuis en Kruge beskryf die dorp as hulle paradys. “Ons het elke dag vir mekaar gesê hoe bevoorreg ons is om hier te kan bly.” Hulle het twee dogters, Suné (26) en Maryke (29) wat in die VSA woon.

Teen spertyd was finale reëlings vir Annemarie se verassing nog nie getref nie. Klein Karoo Voetslaanklub het ’n mediaverklaring uitgereik oor die voorval, waarin hulle die omstan-dighede verduidelik het.

Volgens die verklaring het die groep daarin geslaag om Cape Nature in kennis te stel dat een van die stappers vermis is, waarna Cape Nature personeel na die toneel gestuur het.

Cape Nature het die nodige reëlings getref met mediese en reddingdienste om Annamarie se liggaam en haar man van die berg af te neem, wat weens die weersomstandighede etlike ure geneem het gedurende die nag. (HANNES VISSER)