Tragedie toe ’n sterk rukwind die dam tref

Reddingsvoertuie tydens die soektog na Casey Williams aan die wal van die Stompdriftdam. Foto’s verskaf

Casey Williams (18) van George wat die naweek in die Stompdriftdam buite De Rust verdrink het.

DIE liggaam van ’n 18-jarige seun van George, Casey Williams, wat Saterdag omstreeks 12:00 in die Stompdriftdam buite De Rust verdrink het, is Dinsdag na ’n soektog van vier dae gevind.

Casey was Saterdag saam met skoolmaats en onderwysers op ’n skooluitstappie van Study House, ’n privaatskool van George, om die uitwerking van sterk wind op geboue by die dam te ondersoek.

Van die geboue by die dam is in ’n stadium erg deur wind beskadig.

“Die kinders moes ’n taak doen as deel van hul kwartaalpunt oor hoe om beter strukture te bou en die integriteit van geboue te verbeter teen wind,” sê Clive Welgemoed, direkteur van Study House.

Welgemoed was deel van ’n span onderwysers wat Saterdag saam met die kinders by die dam was en toesig gehou het.

Volgens hom het ’n baie sterk rukwind oor die dam begin waai, en van die kin­ders se opblaasspeelgoed waarmee hulle geswem het, in die lug opgewaai.

“Casey was op ’n opblaasswaan en het teen die wind probeer terugswem na die damoewer.”

Drie volwasse omstanders het dadelik in die water gespring en hom te hulp gesnel, maar was te laat om hom te red.

Volgens Welgemoed was ’n boot met ’n skuba­duiker binne minute op die toneel, en het die duiker onmiddellik onder die water begin soek, maar kon hy Casey nie opspoor nie.

Polisieduikers vanaf Mosselbaai is ontbied, waar­na ’n grootskaalse soektog vier dae geduur het.

“Plaaslike inwoners en selfs mense van so ver as Calitzdorp het kom help soek. Privaatbote en kano’s is ingespan vir die soektog op die dam, terwyl mense ook om die dam gestap het om hom te soek,” sê Welgemoed.

Hy sê die plaaslike gemeenskap het Casey se gesin ongelooflik bygestaan met verblyf en kos asook emosionele onder­steuning.

Casey se liggaam is Dinsdag omstreeks 13:00 gevind.

Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaapse Polisie, gaan die polisie ’n nadoodse ondersoek doen om die oorsaak van Casey se dood vas te stel. ’n Geregtelike doodsondersoek sal ook gedoen word.

“Ons wil graag ons innige meegevoel aan die ouers en die skool oordra met die tragiese voorval,” sê Willem Fourie, bestuurder van die Stompdrift Kamanassie Waterverbruikersvereniging.

Hy het ’n beroep op alle besoekers aan die dam gedoen om ten alle tye reddingsbaadjies op die dam te dra.

“Ons ondersoek die moontlikheid om die gebruik van opblaaswaterspeelgoed te verban of strenger maatreëls in te stel om toekomstige tragedies soos die een van die naweek te probeer verhoed en die kans daarop te verminder.”

• Casey word oorleef deur sy ouers, Craig en Maggie Williams en ’n suster Hannah. (Deur Angelique Eramus)