‘Toe sê ek ek sal self kom en daar sing’ – oorskot van Koos Sas na bykans 100 jaar oorhandig aan Khoisan-gemeenskap

David Kramer (middel) by van links Emile Badenhorst (bestuurder Montagu Museum)en Michael Janse van Rensburg (adjunk-direkteur museumdienste Wes-Kaap). Foto verskaf
Die kis met die oorskot van Koos Sas. Voor sit hoofman Reginald (Reggie) Boesak van die Hessequa Khoisan. (Skermgreep van SABC-opname)

Deur Liesel le Roux
DIE skedel van Koos Sas, die man wie se storie deur David Kramer verewig is in die liedjie en musiekproduksie met die titel Die Ballade van Koos Sas, is verlede week in die Montagu Museum aan die plaaslike Khoisan-gemeenskap oorhandig nadat dit dekades lank in die museum uitgestal is.

Dit is vanjaar 40 jaar nadat Kramer in 1981 by die Montagu Museum ingestap en ’n uitstalling gesien het van die skedel. Dié uitstalling met die skedel en die geweer waarmee hy doodgeskiet langs mekaar, was vir hom baie vreemd, sê Kramer in ’n gesprek met Die Hoorn.

Hy onthou terloops ’n ander uitstalling langsaan, ook oor iemand van die omgewing, maar in dié uitstalling was ’n rugbybaadjie en ’n rugbybal.

Kramer het na dié besoek die lied Die Ballade van Koos Sas geskryf, en dit in 1983 ingesluit op sy nuwe langspeelplaat Hanepootpad. 20 jaar later het hy besluit om ’n musiekproduksie te skryf wat hy ook Die Ballade van Koos Sas genoem het. Die produksie het in 2001 by die KKNK gedebutteer en uitstekend gevaar. Dit is aangewys as die beste nuwe musiekproduksie by die fees en het ook die Herrie-gewildheidsprys gewen. Dit is ook later baie suksesvol in Londen opgevoer.

Volgens Kramer was daar oor die jare sprake dat die skedel begrawe sou word, maar het niks gerealiseer nie. Hy was dus verras toe hy onlangs – ’n verdere 20 jaar later – ’n boodskap gekry het dat die skedel verlede week oorhandig sou word aan die plaaslike Khoisan-gemeenskap en sy lied oor Koos Sas daar gespeel sou word.

“Toe sê ek ek sal self kom en daar sing. En ek is baie bly ek kon dit doen en was deel daarvan. Ek is ook bly dat ek kon kontak maak met mense uit die gemeenskap.

“Dit was ’n goeie einde. Ek het so ’n lang pad geloop met Koos se storie dat dit al amper by my gespook het.”

Kramer sê hy glo die Kollig wat die kunste op die verhaal va Koos Sas laat val het, het daartoe bygedra dat sy oorskot uit die museum verwyder en aan die gemeenskap waaruit hy kom, oorhandig is.

“Dit wys na dekades die invloed van die kunste. Na 2001 toe niks gebeur het nie, het ek regtig gedink niks gaan ooit gebeur nie.”

Nou amper 100 jaar na die omstrede Koos Sas se dood
Dit is vanjaar 98 jaar sedert Koos Sas, wat in die Montagu-omgewing berug was as ’n skaapdief, in 1922 doodgeskiet is. Sas het gereeld met die gereg gebots en in 1917 in die tronk beland vir die moord op Boetatjie Botha. Hy ontsnap egter, waarna hy voëlvry verklaar en naby Springbok geskiet is. In Kramer se musiekproduksie is Koos Sas ’n opstandige held wat weier om te aanvaar dat die veld waar sy voorouers duisende jare gewoon het, aan enigiemand kan behoort.

Die geskiedenis van Sas se lyk en skedel hierna is vreemd en makaber. Volgens Wikipedia is ’n foto van Sas se lyk as ‘n poskaart laat druk en verkoop om geld in te samel vir die ACVV deur ’n ds Steenkamp en sy vrou, en het Steenkamp later die kopbeen na die VSA geneem as voorbeeld van ’n San-skedel. Die skedel het daarna sy pad teruggevind het na die Universiteit Stellenbosch en toe die Montagu Museum.

Minister: Herbegrafnisprogram vir menslike oorskot in museums
By die simboliese oorhandiging van die skedel op 9 Maart het Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, gesê die provinsie het in Junie 2018 ’n herbegrafnisprogram geloods vir menslike oorskot wat gevind is in museums verbonde aan die departement.

“Na vergaderings van verskeie belanghebbendes sedert 2018 kan die proses nou begin vir die waardige begrafnis van die menslike oorskot van Koos Sas wat in die museum gehou is. Museums is nie geskikte instellings om menslike oorskot te hou nie.

’n Waardige begrafnisplegtigheid word vir 18 April 2021 beplan. Dit sal gehou word deur die gemeenskap, tradisionele hoofmanne, leiers en verteenwoordigers van die verskillende Khoisan-tradisionele huise en -stamme uit die Montagu-omgewing, volgens kulturele protokolle en voorskrifte.