Oudtshoorn se drinkwater – kook totdat troebelheid verdwyn sê burgemeester

Die Raubenheimerdam toe dit verlede jaar in Desember na goeie reën 100% vol was.

Die oorspronklike berig is aangepas nadat nuwe inligting aan Die Hoorn verskaf is.

Hy sal aanbeveel dat Oudtshoorniete die drinkwater van die dorp kook totdat die waterkwaliteit na normaal terugkeer, sê die burgemeester, Chad Louw.

Die dosis chloor waarmee Oudtshoorn se drinkwater behandel word, is aangepas nadat daar ’n toename was in die troebelheid van die water sedert kwaai reën in November en Desember in die opvangsgebied van die Raubenheimerdam geval het. Die water uit die Raubenheimerdam word gereeld getoets en met chloorgas ontsmet.

Luidens ’n persverklaring van die munisipaliteit, het die intensiteit van die reën in November en Desember veroorsaak dat modderige water in die dam gevloei het wat die troebelheid veroorsaak. Troebelheid neem egter tans af en behoort binne weke te verdwyn.

Oudtshoorn het nie ’n watersuiweringsaanleg nie en water uit die Raubenheimerdam wat in die in die Swartberge geleë is, word sedert die dam in die vroeë 1970’s gebou is, met chloorgas ontsmet. “Die enigste manier om die troebelheid uit die water te kry, is deur filtrasie. Die moontlikheid om ’n filtreeraanleg te bou is al verskeie kere deur die munisipaliteit ondersoek met die laaste ondersoek in 2014. Die bevinding was dat ’n aanleg van sowat R100 miljoen nodig sal wees om troebelheid heeltemal te voorkom,” lui die verklaring.

Hoewel die troebelheid geen onmiddellike gevaar inhou nie, kan dit die doeltreffendheid van chlorering beïnvloed. Die waterkwaliteit word gereeld getoets en onlangse toetse het bevestig dat daar geen tekens van E.Coli in die water is nie. E.Coli is ’n aanduiding dat daar moontlik skadelike bakterieë in water kan wees. (Deur Liesel le Roux)