Storm ontwortel 51 bome

Opruimingswerk verlede week by die Oudtshoorn Gholfbaan. Foto verskaf

DIE Oudtshoorn Gholfbaan se voorkoms is Son­dag 5 Desember onherroeplik verander toe swaar reën en ge­paardgaande stormsterkte wind 51 bome omgewaai en groot takke afgeruk het. Die gholfbaan lê binne ’n gedeelte van die dorp wat erg onder wind en reën deurgeloop het.

Volgens die baanbestuurder, Ockie Horowitz, beloop die skade aan die baan na raming R200 000 en sal dit weke duur om al die rommel op te ruim.

Die setperk van die vyfde putjie is erg beskadig toe ’n groot bloekomboom wat reeds geslagte lank daar staan, omgewaai het. Die ondergrondse besproeiingstelsel is tersefdertyd beskadig.

Horowitz sê die gholfklub beskik nie oor die mannekrag en hulpbronne om die opruiming en herstelwerk te doen nie.

“Kontrakteurs wat die massiewe boomstompe moet opsaag en wegry, vra groot geld. Die skade wat plek-plek aan die ondergrondse be­sproei­ingstelsel aangerig is moet ook in berekening gebring word,” het hy gesê.

Die baan was van die Maandag (6 Desember) tot Saterdag gesluit sodat werkers dit weer in ’n speelbare toestand kon kry; iets wat ook ’n verlies in inkomste teweeg gebring het.

Bome wat in die slag gebly het, was meestal doring-, bloekom- en peperbome, met die langdurige droogte die afgelope jare wat veroorsaak het dat die bome se wortelstelsels baie vlak was en dus maklik kon omwaai. (Deur Higgo Jacobs)