Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het gister (Vrydag 26 Maart) die Kannaland Munisipaliteit se kantore in Ladismith besoek, onder meer om ‘n proklamasie in opdrag van die president af te gee wat verband hou met die landwye oudit van Covid-19-uitgawes ten einde te verseker dat staatskenkings volgens voorskrifte geskied het. Verskeie dokumente en lêers is glo gister uit die munisipaliteit verwyder. Die Hoorn volg dit tans op met die SOE.
Die Hoorn het betroubaar verneem daar is bewerings dat ‘n inwoner, wat nie n geregistreerde NGO verteenwoordig nie, verlede jaar kospakkies verwyder het.
Die SOE-besoek hou glo ook verband met gebeure uit die era na die Dekker-ondersoek in die vroëe 2000’s en is na bewering die hoofoorsaak waarom die Kannaland Munisipaliteit gebuk gaan onder finansiële tekorte ten opsigte van kontantvloei. Miljoene rande is na bewering wanbestee en sluit beweerde omkopery om tenders te bekom en geldwassery in. Verskeie fluitjieblasers het volgens inligting na vore gekom met inligting.