Spanwerk, reën stuit vlamme

Bo: Die brand Sondagnag in die Swartberge. Onder: ’n Watertenkwa van die George Brandweer het die Oudtshoorn Munisipaliteit kom help wat Maandag onverpoos gewerk het om die vliegtuig op die foto herhaaldelik met water te hervul - 3 000 liter op ’n keer - sodat die brand beveg kon word. Foto’s verskaf

’N BRAND wat Sondagmiddag in die omgewing van die Raubenheimerdam in die Swartberge buite Oudtshoorn uitgebreek het, is Maandagnag danksy samewerking deur brandspanne van Working on Fire (WOF), die Oudtshoorn Munisipaliteit en die Tuinroete Distriksmunisipaliteit onder beheer gebring.

Geen strukture is beskadig nie.
’n Vliegtuig wat 3000 liter water kan dra asook ’n helikopter is vinnig ingespan om die brand onder beheer te kry. Die vliegtuig is Maandag herhaaldelik by die Oudtshoorn Lughawe deur die Oudts­hoorn Munisipaliteit met water hervul.

Die brand het Maandagoggend vroeg vererger op ’n onbegaanbare stuk grond van sowat 40 ha groot suidoos van die dam. Dit is die hele dag aktief uit die lug en van die grond beveg.

Volgens Adel Supra-Vertue, Oudtshoorn se bestuurder brand, redding en rampbestuur, het die WOF-span die brand van die voorpunt af beveg.

“Ons het hulle gehelp deur die vliegtuig so vinnig moontlik weer met water te vul sodat dit so gou moontlik weer kon uitgaan.”

Die oorsaak van die brand is nie bekend nie.

Supra-Vertue sê reën wat Maandagaand in die gebied geval het, het brandbestryders gehelp om die brand onder beheer te kry.

Opruimingsaksies het Dinsdag begin.
Maggie Fourie, eienaar van die Ou­demuragie Gasteplaas naby De Rust en een van talle grond­eienaars van die omgewing wat in ’n vernietigende brand in Desember 2016 mas­siewe skade gely het, sê sy is baie verlig oor die vinnige optrede van rolspelers om vandeesweek se brand te blus.

Deur die vinnige optrede is verhinder dat die brand na gevestigde plantegroei, strukture en olyfboorde verder suidoos in die omgewing van Oudemuragie versprei.

Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, het almal bedank wat sedert Sondag betrokke was by die bestryding van die brand.

“Welgedaan aan almal wat betrokke was – dit was ’n taai geveg!”

• Die Oudtshoorn Munisipaliteit het inwoners verseker dat die brand nie die watergehalte van die Raubenheimerdam sal beïnvloed nie.

Volgens Chris Swart, waarnemende direkteur tegniese dienste, het die brand hoofsaaklik buite die dam se opvangsgebied gewoed. (Deur Liesel le Roux)