So het finansiële posisie afgelope vyf jaar verbeter, sê Macpherson

Chris Macpherson.

DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, wat in ’n stadium op die rand van bankrotskap gestaan het, het die afgelope vyf jaar sulke goeie vordering met finansiële herstel gemaak dat daar nou weer ge­fokus sal kan word op die aanwending van ekonomiese hulpbronne vir dienslewering, en die opknapping en instandhouding van infrastruktuur, in plaas daarvan om slegs agterstallige skuld te delg.

Dié belangrike aankondiging is verlede week (7 Junie 2021) deur die burgemeester, Chris Mac­pherson, gedoen toe hy die dorp se begroting vir die boekjare 2021/2022 tot 2023/2034 tydens ’n raadsvergadering vir goedkeuring aan die raad voorgelê het.

Hoogtepunte van die verbetering in die munisipaliteit se finansiële posisie sedert die huidige raad die leisels oorgeneem het toe die vorige raad in 2016 onder administrasie geplaas is, is:

• Die kontantposisie het van ’n kontantvloei-tekort van ongeveer R110 miljoen in Augustus 2015 tot ’n positiewe kontantvloei van R177 miljoen teen Junie 2020 verbeter.

• Skuld aan verskaffers het afgeneem van meer as R90 miljoen in November 2015 tot R3,4 miljoen in 2020.

• Skuldinvordering het van 86% vroeg in 2016 verbeter tot 96,5% in 2019, maar in 2020 afgeneem tot 92,5% as gevolg van die negatiewe impak van Covid-19 op die plaaslike ekonomie.

Macpherson het gesê dat hoewel die kontant­vloeiposisie aansienlik verbeter het, is dit steeds kommerwekkend en is daar nie kontant beskikbaar om ’n kapitaalvervangingsreserwe te bou nie;

• Die huidige kostedekkingsverhouding is egter slegs 1:8:1, wat beteken dat daar op die kortter­myn slegs voldoende kontant is om 1,8 maande se vaste bedryfsuitgawes te dek; ’n afname van 2:8 in 2020.

“Die huidige ekonomie is swaar geraak deur die koronavirus, soos ook in die res van die wêreld.

“Die toerismebedryf in Oudtshoorn het sowat R80 miljoen verloor met die kansellasie van groot gebeurtenisse soos die KKNK in 2020 en 2021 en die Kango Grotte wat in 2020 gesluit is.

“Dit het ’n rimpeleffek met verdere verliese wat vir die 2021/22-boekjaar voorspel word,” sê Macpherson.

Hy het gesê maatreëls en regulasies om koste te beperk is geïmplementeer, en te verseker dat die munisipaliteit finansieel volhoubaar word.

Macpherson het munisipale amptenare gelukgewens met hul implementering van die finansiële herstelplan en inwoners en belanghebbendes bedank vir hul bystand om die munisipaliteit in ’n beter munisipaliteit te verander as wat dit vyf jaar gelede was. (Deur Liesel le Roux)