

Dit blyk dat inwoners van Oudtshoorn nog vir ’n aantal dae die onaangename rook van smeulende hope tuinafval sal moet verduur. Dit is die gevolg van ’n brand wat verlede Saterdagaand, 23 Augustus, by die stortingsterrein gestig is.
Dit was volgens ’n verklaring wat deur die munisipaliteit uitgestuur is, gevaarlik vir voertuie om onmiddelik op die terrein by die brand te kom en daar is Sondagoggend vroeg begin met die proses om die brand te stuit.
Teen Dinsdag was daar nie meer oop vlamme nie, maar afval, wat hoofsaaklik uit plantmateriaal bestaan, het oor ’n groot area gesmeul.
Die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, het die stortingsterrein Sondag besoek en sy kommer uitgespreek oor die voortdurende onwettige aktiwiteite by die Oudtshoorn-stortingsterrein, wat ook tot die huidige brand aanleiding gegee het.
Hy het reeds op 22 Augustus voor die brand, die terrein saam met die munisipale bestuurder besoek en sy kommer uitgespreek oor mense wat op die terrein is en herwinning doen. Daar was vroeër verlede week ook aangemeld dat iemand onwettig mediese afval op die terrein gestort het.
Oor sy besoek aan die terrrein op Sondag het die burgemeester gesê: “Met my besoek vanoggend het ek met groot kommer gesien hoe selfs jong kinders hulle lewens op die spel plaas deur tussen hope rommel rond te beweeg. Ek het selfs kleuters op hul ouers se rug daar opgemerk. Hierdie situasie is onaanvaarbaar.”
Hy het bevestig dat die brand veroorsaak is deur ’n individu wat ’n vuur op die terrein gemaak het en dat die terreinbestuurder die identiteit van die persoon bekom het.
“Ons kan nie langer toelaat dat roekelose en onwettige optrede die veiligheid van ons gemeenskap bedreig nie. Die munisipaliteit sal nie huiwer om streng en gepaste stappe te neem teen oortreders nie. Ek gee my woord dat ons alles binne ons vermoë sal doen om die gemeenskap te beskerm en die stortingsterrein onder streng beheer te bring,” het Allers in ’n verklaring gesê.
Toe die brand uitgebreek het, het die wind weg van die dorp af gewaai, maar sedertdien het die wind gedraai en inwoners is reeds die afgelope aantal dae ongelukkig oor die rook en lugbesoedeling wat oor die dorp trek. Inwoners wat gesondheidsprobleme ervaar, het aan Die Hoorn gesê dat dit vir hulle moeilik is om uit te gaan aangesien die lug hulle toestand vererger.
Een inwoner het gemeld dat hy ’n dringende beroep op die provinsiale minister van plaaslike regering en omgewingsake, Anton Bredell, gerig het om dringend aandag aan die stortingsterrein te gee.
Amptenare van die departement van omgewingsake het die terrein ook die afgelope week besoek.
Die munisipaliteit het in ’n kort verklaring gesê dat daar tans nie oop vure op die terrein is nie en dat die proses om die smeulende materiaal te blus onverpoosd voortgaan.
Daar was meer as ’n jaar gelede ook ’n brand by die stortingsterrein waar gespook moes word om te keer dat dit versprei. Tydens daardie brand was die lugbesoedeling heelwat erger aangesien die brand ook huishoudelike afval ingesluit het en nie net plantmateriaal nie.
Die Hoorn het die stortingsterrein gisteroggend, Donderdag 28 Augustus, besoek om die omvang van die brand waar te neem. Op daardie stadium was die smeulende materiaal beperk tot ’n gebied waar hoofsaaklik plantmateriaal gestort word en wat deur twee grondwalle van ander materiaal afgesper was.
Vragmotors en laaigrawe was besig om grond aan te ry om die smeulende materiaal stelselmatig te bedek. Ongeveer ’n derde van die area wat gesmeul het, was toe reeds met grond bedek, maar dit was duidelik dat die proses nog etlike dae gaan duur. (HANNES VISSER)