Sleepwa met volstruise slaan om op slegte grondpad

’n Aantal volstruise is dood en ’n aantal ernstig beseer toe 'n sleepwa met veertig volstruise op die grondpad tussen die Polisie se honde-eenheid en die Schoemanshoekkerk omgeslaan het. Die meeste van die volstruise was op die oog af ongedeerd en het in 'n hoek van die landery waarby die sleepwae beland het.

’N AANTAL volstruise is verlede Donderdag (21 Mei) dood en ’n aantal ernstig beseer toe ’n sleepwa met 40 volstruise op die grondpad tussen die Polisie se Honde-eenheid en die Schoemans­hoekkerk buite Oudtshoorn omgeslaan het.

Die sleepwa het omgeslaan wes van Surval in die lang drif wat oor die rivierloop gaan.

Die meeste van die volstruise het in die hoek van ’n landery langs die omgeslane sleepwa ge­staan en was op die oog af ongedeerd.

Die ongeluk het kort voor 11:00 plaasgevind. Die vragmotor wat die sleepwa getrek het, het ook volstruise vervoer, maar het nie self omgeslaan nie.

Vier werkers wat saam met die volstruise in die sleepwa was om toe te sien dat die diere nie gaan lê nie, is beseer en per ambulans na die hospitaal geneem. Hulle is dieselfde dag ontslaan.

Japie Potgieter, eienaar van die volstruissleep-wa, sê werkers wat op so ’n sleepwa met volstruise mag werk, word gekeur. “Ek is dankbaar nie een van die werkers is in die ongeluk dood nie.”

Hikkie Fourie, wat die vragmotor bestuur het, sê hy het nie vinnig gery nie en versigtig bestuur. Volgens hom is volstruise ’n relatiewe ligte vrag wat veroorsaak dat die vragmotor en sleepwa nie so vas op die pad is soos as dit swaar gelaai is nie.

“Die sleepwa het op ’n baie slegte sinkpadge-deelte van die pad begin swaai en omgeslaan voor­dat ek iets kon doen,” het hy gesê.

Die Hoorn was op die toneel, en die toestand van die pad waar die sleepwa omgeslaan het, is inderdaad baie sleg met groot sinkplaathobbels.

Na verneem word, behoort die volstruise aan JP Schoeman.

• Potgieter het op Die Hoorn se Facebook-blad sy kommer oor die toestand van die pad uitgespreek” en gereageer om bewerings dat die be­stuurder te vinnig gery het.

“Die betrokke drywer het die nodige permitte om vervoer te doen wat hy goed doen. Ons voer­tuie word gereeld gediens by agente wat baie goeie diens lewer

“Die betrokke drywer het stadig gery, want die sleepwa se klappe is nie gebuig nie. Werkers wat in ’n land daar naby gewerk het, sê ook die vragmotor het stadig gery.

Die toestand van die betrokke pad is so dat sink-plaathobbels 150 mm tot 250 mm uitmekaar lê. Gaan ry daardie pad van die honde-eenheid na Schoemanshoek. Ry hom tot bo by die kerk en besluit self hoe die pad se toestand is, sê Potgieter. (Deur Schalk le Roux)