Skote klap voor polisie 3 vastrek

Bo: Die toneel net buite Oudtshoorn Vrydagoggend waar drie vermeende inbrekers in hegtenis geneem is nadat hulle met ’n wit Volkswagen Golf en te voet van die polisie probeer vlug het. Onder is die Golf waarop die polisie in ’n stadium geskiet het in ’n poging om dit tot stilstand te dwing. Foto’s: Stefan Skapie Goosen

SKOTE het verlede Vrydag net buite Oudtshoorn geklap toe drie vermeende inbrekers in ’n wit Volkswagen Golf van die Oudtshoorn Polisie probeer vlug het.

Die mans – Simpiwe Bembe (44), Thobile Betya (46) en Cocumtheto Masongo (41) – wat na bewe­ring by ’n selfoonwinkel in Riversdal ingebreek en daarna met die Golf op die vlug geslaan het, is uiteindelik in die veld buite die dorp vasgetrek.

Die Golf is Vrydagoggend omstreeks 08:15 met die hulp van veiligheidskameras op Oudtshoorn opgemerk. Die polisie se Honde-eenheid het ge­rea­geer en in die rigting van De Rust gery terwyl die De Rust Polisie die voertuig op die pad ingewag het.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die mans omgedraai toe hulle die De Rust Polisie opmerk en teruggejaag Oudtshoorn toe.

“In die omgewing van Le Roux Stasie tussen Oudtshoorn en De Rust het die lede van die Honde-eenheid die Golf probeer stop, maar dit het op hulle afgejaag waarna skote op die voertuig gevuur is. Die verdagtes het nie terug­geskiet nie.

“Net buite Oudtshoorn het die Golf langs die pad gestop en het die drie mans die veld ingehardloop. Die polisie het hulle agternagesit. Al drie is sowat 250 meter die veld in in hegtenis geneem.”

Visser sê die drie verdagtes is aan die Riversdal Polisie oorhandig, wat die saak verder ondersoek.

Volgens kapt Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die drie verdagtes tans in aanhouding. “Hulle sal weer op 12 Oktober in die Riversdal Landdroshof verskyn op ’n klagte van inbraak by ’n besigheid,” het hy gesê. (Deur Liesel le Roux en Stefan Goosen)

Be the first to comment on "Skote klap voor polisie 3 vastrek"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*