Skoolboelie laat koppe draai…

’n Begrafnistoneel uit die kortfilm Skoolboelie. Dié toneel is in Petunialaan in Bridgton verfilm. (Foto verskaf)

DIE strate van Bridgton op Oudtshoorn was die afgelope paar weke in rep en roer met die verfilming van ’n kortfilm, Skoolboelie, wat gegrond is op ’n kortverhaal wat deur een van Bridgton se inwo­ners, Cedric Africa, geskryf is.

Die rolverdeling bestaan hoofsaaklik uit inwo­ners uit dié gemeenskap.

’n Potlood en papier het vir Africa (51) bevry­ding gebring in die tyd wat hy ’n gevangene was en van die “verdoemenis” wat volgens hom daar­mee gepaard gegaan het.

Afrika is in 2016 op Oudtshoorn skuldig bevind aan bedrog. Die skryfproses in sy tronksel het vir hom insig gebring oor die foute wat hy in sy lewe gemaak het en hoekom hy tronk toe is en was die begin van sy rehabilitasie, het hy in 2021 aan Die Hoorn vertel.

“Toe ek gevonnis is, het dit gevoel my lewe kom tot stilstand, asof ek nooit weer die son gaan sien nie. Dit is maar ’n teer saak, maar as iemand my vra, dan praat ek daaroor – ek het immers vir my sondes betaal,” sê hy.

Met sy vrylating in 2020 het sy eerste boek, Kinders van die Hoorn, die lig gesien en daarna nog ’n boek, Noodkreet.

Cedric sê die konsep van dié kortfilm, Skoolboelie, het in sy gedagtes posgevat terwyl hy besig was om sy derde boek, ’n kortverhaalbundel getitel Loka­siestories, te finaliseer.

Een van sy kleinkinders het op ’n die dag huis toe gekom en vertel hoe sy by die skool geboelie word. Cedric het besluit om ’n verhaal te skryf wat dié kwessie aanspreek en bewusmaking sal bring.

“Toe sy my van die voorval vertel, het ek onmiddellik my uitgewer gebel en gesê: ‘Hou vas, ek het nog ’n storie aan die broei!’ Ek begin toe skryf en binne drie aande was ek klaar,” vertel Cedric.

Sonder om té veel oor die storie weg te gee – wat nog ten minste oor die volgende drie weke verfilm gaan word in onder meer by die Kanaal-omgewing en Bridgton – sê Cedric dat sy kortfilm nie net oor skoolboelies nie maar oor boelies in die samele-wing handel.

“Ek wil bewusmaking onder mense kweek. Dit is nie net beperk tot skole nie. ’n Mens kry ook boe­lies by die werk, of in die kerk.

“In hierdie storie gee ek die situasie ook so ’n bietjie van ’n twist om die kyker te laat verstaan dat elke boelie nie noodwendig ’n boelie is omdat hy of sy een wil wees nie; dit is die boelie se eie omstandighede wat hulle in baie gevalle maak wie hulle is.”

Cedric sê hierdie storie het hom laat besef dat hy graag meer draaiboeke sal wil skryf om sy verhale die lig te laat sien. Hy het reeds van sy ander kortverhale in draaiboeke begin verwerk.

Cedric sê dat nadat hy deur die proses gegaan het om die verfilming aan die gang te kry – wat hy hoofsaaklik self finansier – het hy op Facebook “geadverteer” vir mense om betrokke te raak en het die kortfilm so momentum gekry.

Oudtshoorniete sal die akteurs in die film se name herken.

Die hoofrol word deur die jong Thato Mbambe (14) vertolk, terwyl ’n bekende Oudtshoorn-onderwyser, Leach van der Westhuizen, Thato se pa in die film vertolk.

Die boelie word gespeel deur Jumain Bruintjies, die boelie se pa word deur Africa self, met sy vrou, Sherome, die boelie se ma.

Verder speel Justin Fortuin, past Tanelle Welff-Dixon, Yvonne Thomas en Pat Blaauw ook rolle in die kortfilm.

Cedric beoog om die kortfilm vir die Silwer­skerm­fees in te skryf, en het groot planne om dit aan kykNET, Netflix en Showmax voor te lê.

Hy wil ook deur middel van die kortfilm ’n teenboelieveldtog loods.

Hoewel hy nog nie heeltemal seker is wanneer die kortfilm klaar sal wees nie, behoort dit vanjaar uitgereik te word.

Cedric sê hierdie eerste kortfilm van hom is ’n baie opwindende ervaring. “Ek kan nie genoeg kyk na die footage nie! Wow, wow, wow!” (Deur Stefan Skapie Goosen)