Verskeie huise in Julietsingel in Toekomsrus (Oudtshoorn) is Sondag oorstroom. Foto verskaf
Die wit Mercedes het Sondag in Baron van Reedestraat vasgeval.
Een van talle bome wat omgewaai is, was dié een by die VGK in Bridgton.
Oorstroomde huise in Julietsingel in Toekomsrus.
Inwoners wie se huise oorstroom is, Maandag by die De Jager Sportstadion waar hulle tydelik gehuisves is.
Foto’s: Die Hoorn en verskaf
DAAR was sedert Maandag groot vreugde in die Klein Karoo nadat nog goeie reën Sondag en Maandag in die streek geval het, skaars twee weke nadat die Oudtshoorn-omgewing ook goeie reën gekry het. Die jongste reënvalsyfers het tussen 40 en 70 mm gewissel.
Maandagaand het Oudtshoorn se drinkwaterdam, die Raubenheimerdam, begin oorloop, die eerste keer sedert November 2016. Die damvlak het in die winter nog op 30% gestaan.
“Dit is die beste nuus vir die dorp nadat die Groter Oudtshoorn en Kannaland onlangs tot ’n droogterampgebied verklaar is,” sê die dorp se burgemeester, Chad Louw.
Inwoners kan nou uitsien na die opheffing van streng en duur waterbeperkings en tariewe. Volgens die senior bestuurder water en riool by die munisipaliteit, Chris Swart, skenk die munisipaliteit aandag aan die opheffing van waterbeperkings.
Ander damme in die streek se vlakke het ook gestyg met die Calitzdorpdam op 64,6%, die Nelsdam op 85%, die Gamkadam op 42%, terwyl die Kammanassiedam en Stompdriftdam se vlakke ook effens begin styg het tot onderskeidelik 7% en 19%.
Aan die ander kant het Oudtshoorn kwaai deurgeloop onder oorstromings, sterk wind wat bome ontwortel en dakke afgewaai het, en kragonderbrekings in dele van die dorp wat inwoners met die hande in die hare gehad het.
Verskeie strate en paaie op en om die dorp moes gesluit word vir verkeer – onder meer die Swartbergpas, Meiringspoort, die Outeniquapas, Rooiheuwelpad en paaie in die dorp wat laagwaterbrûe kruis.
Volgens Adel Supra-Vertue, bestuurder brande en rampe by die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, is die munisipaliteit steeds besig om skade wat deur die wind en vloedwater aangerig is te bepaal. Onder die klagtes waaraan tans aandag geskenk word, is 24 gevalle van bome of groot boomtakke wat om- of afgewaai is, 27 klagtes oor strate en stormwater, 81 klagtes van huise wat ernstig beskadig is en 188 klagtes van kragonderbrekings.
Sy sê sowat 100 mense wat haweloos was nadat hul woonplekke erg beskadig is, is tydelik by die De Jager Sportkompleks gehuisves.
Landbouers hoop vir einde van droogte
Laubscher Coetzee, Agri Klein Karoo se verteenwoor-diger by Agri Wes-Kaap, was versigtig optimisties dat die goeie reën van twee weke gelede en weer begin vandeesweek die begin is van ’n verandering in weerpatrone.
Die afgelope jare se droogte is as die ergste in dekades bestempel, deur party selfs as die ergste die afgelope eeu, en het baie landbouers finansieel geruïneer.
Volgens Coetzee is dit dalk nog te vinnig om te sê of die goeie reën dié droogte gebreek het, maar is die feit dat takriviere soos die Olifantsrivier die eerste keer in jare sterk vloei en damme oral water kry, baie bemoedigend.
Hy sê egter die meeste boere is deur die droogte uitgemergel en het nie die nodige kontantvloei om nou te kan plant nie.
“Boere moet nou besluit of hulle nog wil plant. Daar is niks op die lande nie, want niemand wou dit waag nie.” (Deur Liesel le Roux)
Die Raubenheimerdam loop oor! Die wateroorloop stort hier in ’n skag af en loop via ’n groot tonnel tot in die Grobbelaarsrivier. Foto: Johan Uys