
Indien alles vlot verloop en die kontrakteurs op skedule bly soos wat tans gebeur, is Oudtshoorn se grootste winkelsentrum teen die einde van April klaar. Die Hoorn het die konstruksieperseel hierdie week besoek en met die projek se ingenieur en een van die ontwikkelaars gesels.
Die Klein Karoo Markt word by die kruising van Rademeyerstraat en Langenhovenweg teen ’n koste van meer as R300 miljoen opgerig. Die grondwerke het reeds in Mei vanjaar begin en volgens die ingenieur is alles op skedule om die projek teen 26 April te voltooi.
Die sentrum se vier ankerhuurders is Checkers, Woolworths, Food Lover’s Market en Dischem. Saam met die ankerhuurders sal daar met voltooiing tussen 35 en 40 winkels wees. Die presiese getal is nog nie finaal nie aangesien daar nog onderhandelinge met sommiges is.
Die sentrum het drie hoofingange by onderskeidelik Checkers, Woolworths en Food Lover’s Market. ’n Loopgang met bome verbind die twee verste punte met mekaar.
Met die koerant se besoek was meer as 300 werkers op die perseel besig. Dit is die gemiddelde aantal werkers wat per dag op die perseel is, maar daar was al op een dag 481 werkers. Daar word sover as moontlik van plaaslike arbeid en ook van plaaslike verskaffers gebruik gemaak wat nou reeds ’n ekonomiese inspuiting vir die gemeenskap is.
Buiten die oprigting van die sentrum is die ontwikkelaars ook besig om die gedeelte van Rademeyerstraat tussen Langenhovenweg en die Grobbelaarsrivier te herbou.
Die pad word verbreed, stormwaterstelsels word verbeter en ’n verkeerssirkel word by die ingang tot die sentrum gebou. Die munisipaliteit is verantwoordelik vir die oprigting van verkeersligte by die kruising van Rademeyerstraat en Langenhovenweg.
Die Hoorn het ’n aantal interessante statistieke gekry. Daar word byvoorbeeld 36 000 bakstene per dag gelê en gemiddeld 140 ton beton word per dag gegiet. Dan word daar ook meer as 90 ton boumengsel (dagha) per dag vir bouwerk gebruik. Ongeveer 20 kontrakteurs met hulle eie spanne en eie subkontrakteurs is tans by die oprigting van die sentrum betrokke.
Op ’n vraag oor die moontlike gevare van ’n vloed in die aanliggende Grobbelaarsrivier, het die ingenieur verduidelik dat die geboue bokant die 100 jaar vloedlyn opgerig word.
Die parkeerarea kan moontlik beïnvloed word, maar hy wys daarop dat die watervloei baie beter sal wees as die versperrings in die rivier dringend aangespreek word.
Daar was juis verlede week ’n gesprek tussen rolspelers en die burgemeester oor stappe om die rivier skoon te maak sodat opdamming soos wat met die afgelope vloede voorgekom het, beperk kan word. (HANNES VISSER)