BETROKKENES BY SKORSING MAG NIE NAMENS SARCO OPTREE NIE, Sê JUTHE
Deur Stefan Skapie Goosen
Die Groter Oudtshoorn se onder-burgemeester, Gaven Juthe, is deur die party wat hy in die raad verteenwoordig, die South African Religious Civic Organisation (Sarco), geskors. Lede van Sarco het Juthe se skorsing vroeër vandag (Vrydag 9 April 2021) by ‘n perskonferensie op Oudtshoorn bekend gemaak.
Dit beteken volgens Sarco dat Juthe se plek in die raad as proporsionele raadslid (PR) nou vakant is. Volgens die party het Juthe talle tugverhore verontagsaam; die mees onlangse een op 6 April. Sarco se bestuur het aangedui dat ’n ander proporsionele raadslid in Juthe se plek aangewys sal word.
Juthe sê egter die mense betrokke by sy skorsing het nie die regsbevoegdheid om dit te doen nie. Volgens hom is die mense betrokke nie opbetaalde lede van Sarco nie en mag hulle nie namens die party optree nie. Juthe sê hy het reeds regstappe gedoen teen hulle en prokureursbriewe in dié verband is verlede week aan Abraham Tiemie, Jurie Harmse (‘n oud-raadslid vir die ANC en die DA) en Martin Bentley gestuur.
Die Hoorn het ook bevestiging ontvang dat ‘n raadslid slegs in opdrag van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) vervang mag word. Indien die OVK tevrede is dat die vervanging van ‘n proporsionele raadslid deur sy/haar party regsgeldig is, sal die munisipale bestuurder van ‘n munisipaliteit amptelik daaroor ingelig word.
Dié optrede van lede van Sarco is intussen deur ‘n ingeligte bron bestempel as “interne struwelinge” binne Sarco en ‘n poging van mense wie se lidmaatskap opgeskort is om onmin binne die party te saai.
• Volgens Abraham Tiemie, Sarco-sekretaris-generaal, is Juthe om drie redes deur die nasionale uitvoerende komitee (NUK) uit die party geskors: eerstens omdat hy versuim het om die koalisie wat hy volgens Tiemie en die party met die DA gesluit het, te verbreek na ‘n opdrag van die Sarco NUK; tweedens omdat hy geweier het om met die party se NUK te vergader rondom beleidsake; en derdens omdat hy geweier het om as onderburgemeester te bedank na ‘n opdrag van die Sarco NUK.
Die klagstaat teen Juthe sê ook dat hy versuim het om koalisies met ander partye aan Sarco se NUK bekend te maak. Al die klagtes teen hom hou volgens die klagstaat verband met Sarco se grondwet, en hoe Juthe hierdie reëls volgens die party se NUK verbreek het. (Berig opgedateer)