Ruite spat op Stolsvlakte-pad

So lyk die passasiersruit waardeur ’n klip gegooi is met die klip en glasstukke wat op ’n 95-jarige vrou se skoot beland het. Foto verskaf

VERMY die Stolsvlakte-pad buite Oudts­hoorn.

Dit is die waarskuwing van ’n bekende Klein Karoo-kunstenaar, Anton Roetz, na­dat sy vrou, Betsie, se motor op Woensdag 22 Junie op dié pad deur kinders met klippe bestook is. Een klip het die motor se voorruit getref en ’n ander het die passasiersvenster verpletter waar sy 95-jarige skoonma, by almal bekend as “Ouma Goosen”, gesit het. Die glasstukke van die ruit en klip het op haar skoot geval.

“My vrou was op pad om my skoonma dokter toe te neem en moes eers my skoonma se versorger daar gaan aflaai. Gelukkig is my skoonma nie deur ’n klip getref nie!

“Toe ’n klip die voorruit tref, en nog ’n klip kom deur die passasiersvenster met die glasstukke en klip wat op haar skoot geval het, het sy natuurlik baie groot geskrik. Sy was geweldig deurmekaar en verward daarna.”

Roetz sê sy skoonma wou na die insident net weet hoekom iemand haar met klippe wou gooi.

Volgens hom beloop die skade aan sy voertuig sowat R20 000.

“Dit was absoluut onnodig en kan nie so aangaan nie. Die situasie móét hanteer word, en iemand móét verantwoordelik gehou word. Dit gebeur gereeld, en mens kan dit nie net los omdat dit kinders is nie. Dit kon soveel erger gewees het as daai klippe iemand getref het.”

Roetz het ’n boer uit die omgewing, George Snygans, bedank wat saam met die polisie vinnig op die toneel was en die situasie beredder het.

Snygans vertel dat dié gedeelte van die Stolsvlakte-pad al geruime tyd ’n veiligheidsprobleem bied. Dit het die afgelope tyd egter vererger.

“Ons probeer mense al minstens die laaste drie of vier jaar daarteen waarsku om die pad te gebruik. Ons weet die kinders gooi klippe na voertuie wat daar verbyry of stilhou wanneer hulle hul werknemers oplaai.”

Hy sê hy was juis laatmiddag besig om naby dié stuk pad te saai toe Roetz hom bel en om hulp vra.

“Die polisie was toe reeds op pad omdat ek hulle vroeër vir ’n ander rede ontbied het. Ek en die polisie het byna op dieselfde tyd daar aangekom en seker gemaak almal was veilig. Die klip het in die kar gelê toe ons daar aankom. Dit kon baie erg gewees het.

“Die probleem is dat die kinders klippe gooi en dan weghardloop tussen die huise in. Dan kan ons hulle nie opspoor nie. My bakkie se ruit is al twee keer stukkend gegooi. Ons het nou al so ver gegaan om ompaaie rondom dié spesifieke gedeelte te maak sodat ons voertuie en trekkers veiliger om die plaas kan rondbeweeg. Dit het veral erger begin raak rondom die Covid-tydperk. Ek dink die kinders raak verveeld en dan jaag hulle kattekwaad aan. Hulle word nie verantwoordelikheid geleer nie, en hulle leer nie daar is gevolge vir hul aksies nie.”

Volgens Snygans word daar elke keer wat so ’n insident plaasvind ’n saak by die polisie aanhangig gemaak, maar omdat dit so moeilik is om die verantwoordelikes op te spoor, gebeur niks nie. “Ek het onlangs met brigadier Susan Crafford, die stasiebevelvoerder op Oudtshoorn, hieroor gesels, en ook oor ander misdaad wat in ons omgewing plaasvind. Dit is nou rerig ’n risiko-gebied. Ons het ook probleme met die steel van ons heinings – ek moes al menigmaal heinings vervang wat afgesteel word. Die gemeenskap en hul leiers, en álle rolspelers, sal bymekaar móét kom om ’n oplossing vir hierdie situasie te vind.”

Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word ’n klag van opsetlike saakbeskadiging ondersoek.

Crafford het op navraag gesê samespre­kings tussen die polisie en inwoners van Stolsvlakte op 20 Junie was baie positief, en dat ’n opvolgvergadering met meer rol­spelers reeds gereël word sodat gefokus kan word op ’n geïntegreerde benadering om die probleem aan te spreek.

“Hoewel die bekommernis misdaad is, is daar baie faktore en rolspelers wat tot oplossings kan lei en die situasie kan verbeter. Die munisipaliteit, raadslede, munisipale wetstoepassing, verkeersdienste, maatskaplike dienste en justisie is van die rolspelers wat betrek gaan word by die volgende vergadering.” (Deur Stefan Skapie Goosen)