DIE hemel se sluise het hierdie week behoorlik om Oudtshoorn, die Klein-Karoo, Tuinroete en in die hele Wes-Kaap oopgemaak.
Teen Dinsdag het agt van Oudtshoorn se tien brûe oorspoel, met net Noordstraat en Voortrekkerweg wat Wesbank met die res van die dorp verbind. Riviere om Oudtshoorn het ook afgekom. Die Olifantsrivier het net na die Rioolwerke oorstroom, wat inwoners van Rooiheuwel en Kleyns-poort van Oudtshoorn afgesny het.
Meiringspoort is ook Maandag-aand gesluit nadat daar swaar reën aan Prins Albert en Klaarstroom se kant uitgesak het.
Frances Visagie en haar dogter, Fran-Marie is Maandag in die poort vasgekeer en moes vir twee dae wag dat watervlakke genoeg kan sak, voor hulle veilig met hul motor kon deurry. Hulle kon gisteroggend (Woensdag) tot in Klaarstroom ry, waar hulle sou wag tot Meiringspoort oopgestel is vir verkeer.
Sy vertel dat hulle oorspronklik van Fraserburg is, en twee maande gelede Oudtshoorn toe getrek het. Fran-Marie is ’n leerder by Hoërskool Oudts-hoorn.
“Ons het die naweek Kaap toe gegaan. Met die terugkom was daar by Nuy Valley ’n lang ry motors, omdat die pad toe was. Daar het ’n brug inmekaar gestort,” vertel sy.
Hulle is deur ’n polisiebeampte meegedeel dat die N1 ook toe is en is aangeraai om die Touwsrivier-, Laingsburg-pad terug te neem .
“Dit het hard gereën, en toe ons op Prins Albert kom het ons vir die polisie gevra of dit nog veilig is om deur die poort te ry,” vertel sy.
Hulle het om 20:00 uit Prins Albert gery. “Ons is deur drie driwwe, maar by die vierde drif kon ons nie verder ry nie.” Hulle het besluit om terug te draai, maar kon slegs deur die derde drif kom.
Hulle het tussen Wasgat- en Opmetingsdrif stilgehou en die rivier dopgehou. Dit het later begin sak, maar nie genoeg om deur te kan ry nie. Gelukkig was hulle veilig en warm. Hulle het die aand hout opgetel om ’n vuurtjie te maak.
In nog ’n voorval is kinders wat by die Kango Bergoord gaan kamp het, vasgevang toe die Le Rouxrivier wat deur die oord vloei sy banke oorspoel het. Die AMS (Air Mercy Services) se helikopter het Dinsdag kos, melk en ander noodvoorraad vir die 72 kinders en tien volwassenes van Aliwal Noord Primêre Skool in die Oos-Kaap afgelewer. Hulle kon intussen huis toe vertrek.
Die Grobbelaarsrivier wat vanaf die Kango Grotte deur Oudtshoorn vloei het ook sterk afgekom en die Swartbergpas is gesluit.
Die Cango Wildlife Ranch moes ook van hul luiperdkampe ontruim nadat die Grobbelaarsrivier sy walle oorstroom het. Hulle bly egter oop, maar die luiperdkampe is gesluit vir besoekers.
Groot gedeeltes van die Wes-Kaap is swaar getref deur vloede en riviere wat hul walle oorstroom het. Tussen Robertson en Worcester was motoriste Maandagaand vasgekeer toe twee riviere oor die pas geloop het en verkeer nie deurgelaat kon word nie.
Opruimingswerk het teen Dinsdag begin, met baie van die paaie wat vir verkeer oopgemaak kon word deur middel van stop-en-rystelsels.