Reën en sneeu en reën…

Johan Uys van Oudtshoorn wat Maandagaand saam met David Fourie hul tentjies op die Swartberge opgeslaan en daar oornag het om die sneeu eerstehands te kon ervaar. Hier is Uys Dinsdag vroegoggend voor sy tent nadat dit die hele nag op die berge ge­sneeu het. Dit was rof, maar ook baie mooi en lekker, het hy ná die tyd gesê. Foto: David Fourie

NAT en koud met ’n spierwit hoed op die berge.

Dit is die goeie nuus vandeesweek uit die Groter Oudtshoorn met goeie reën en sneeu wat glimlagte op baie gesigte in dié droogtegeteisterde streek geplaas het.

Op Oudtshoorn self het meer as 22 mm se sagte deurdringende reën sedert Saterdag met tussenposes uitgesak, met 12 mm wat Saterdag geval het en 10 mm tussen Maandagaand en Dinsdagaand. Op De Rust het 25 mm reën geval.

Op Calitzdorp en Prins Albert was die reën egter skaars, met 5 mm wat op Calitzdorp geval het en 3 mm op Prins Albert.

Ligte sneeu wat Sondag op die Swartberge buite Oudtshoorn geval het, was net die voorspel vir Dinsdag se winterskouspel toe die Swartberge toegesneeu het en tot naby die voet van die berg spierwit was.

Sneeu het selfs op die Outeniquaberge tussen Oudtshoorn en George, en die voetheuwels van die Swartberge by Schoemanshoek geval, laasgenoemde iets wat nog baie min gebeur het.

Twee avonturiers van Oudtshoorn, Johan Uys en David Fourie, het ’n unieke sneeuervaring gehad toe hulle die sneeu reeds van vroeg Maandagaand af in twee tentjies op die Swartberge gaan inwag het.

“Dit het die heelnag gesneeu. Dit was woes, maar lekker,” het Johan Dinsdagoggend van hul ervaring gesê.

Jonel Hunlun van die plaas Sandrivier naby Seweweekspoort tussen die R62 en Laingsburg het verskeie foto’s geneem van waar die sneeu wit op die grond om hul huis gelê het, terwyl die gebiede meer oos na Uniondale ook bedek was met ’n sneeukombers.

Die N9 tussen Uniondale en die Holgate-kuising by Herold is Dinsdagmiddag gesluit nadat swaar sneeu op die Uniondalepad geval het. (Deur Liesel le Roux)