Raad soek ontwikkelaars vir Bergoord, Bridgtonoord

DIE Oudtshoorn munisipale raad is op soek na beleggers om in ’n vennootskap met hulle die twee munisipale oorde, die Kango Bergoord en Bridg­ton­oord, te ontwikkel. Dié twee oorde word tans teen ’n verlies bedryf.

’n Verslag wat die onderburgemeester, Gavin Juthe, namens die strategiese dienste-afdeling van die munisipaliteit by ’n raadsvergadering op 29 April voorgelê het, skets ’n donker prentjie van die agter­uitgang en verval van die twee oorde. Volgens Juthe toon die Bridgtonoord ’n nettoverlies van R1,4 miljoen vir die tydperk tussen 2017 en 2020.

“Die infrastruktuur van die oord is in ’n baie swak toestand en nie funksioneel nie, met ’n vaste bedryfskoste van R1,8 miljoen per jaar. Dieselfde scenario bestaan by die Kango Bergoord wat daartoe gelei het dat die oord gesluit is,” het Juthe gesê.

Volgens Chris Macpherson, burgemeester van die Groter Oudtshoorn, het die twee oorde groot potensiaal om ’n bydrae te lewer tot groei in toe­risme en die ekonomiese ontwikkeling van die Klein Karoo, veral in die lig van die negatiewe uitwerking van die Covid-19-pandemie.

“In die vennootskap sal die twee bates in die besit van die munisipaliteit en die inwoners van die Groter Oudtshoorn bly. As deel van die proses sal insette van die gemeenskap binnekort in advertensies gevra word. Ons wil ons gemeenskap aanmoedig om aan die proses deel te neem.”

Macpherson sê geen huidige werknemer van die twee oorde sal hul werk verloor nie.

“Werknemers sal òf deur ’n maatskappy oorgeneem word wat moontlik die oorde sal bestuur, òf hulle kan binne ander departemente van die munisipaliteit werk.”

Volgens Macpherson wil die munisipaliteit munisipale bates soos die oorde, die terreine rond­om die oorde, die Rust en Vrede Waterval en die opvangsgebied in en om die Kango Grotte in ’n “vermaaklikheidsentrum” binne die munisipale gebied omskep.

Alhoewel die munisipaliteit beleggers soek vir die ontwikkeling van toerismebesienswaardighe­de, sal die munisipaliteit se departement gemeenskapsdienste steeds verantwoordelik bly vir die daaglikse bestuur van hierdie oorde en alle bedryfsake. ’n Konsultasieproses met belanghebbendes sal onderneem word.

Die Raad het voorts ’n besluit van November 2019 om tenders te vra vir die verkoop van die plaas De Kombuys vir die ontwikkeling van ’n toe­rismeverwante besigheid, herroep. “Die besker­ming van die opvangsgebied op dié plaas is van uiterste belang. Ons ondersoek tans maniere om dié bate ten volle te benut en waarde toe te voeg tot ontwikkeling in die gebied,” sê Macpherson. (Deur Liesel le Roux)