Die fantastiese bedrag van R50 000 is Dinsdagaand, tydens Eljada-Kairos skool se Donateurs funksie, aan die skool geskenk deur SAMA (South African Medical Association).
Wessel Vermeulen, bekende dokter van Oudtshoorn het die aankondiging gemaak en ’n koevert aan die skool se hoof Hennie Baartman oorhandig.
Die aand is deur verskeie donateurs bygewoon wat onder andere finansiële bydraes maak of deur skenkings van items betrokke is by die skool.
Vermeulen is deel van SAMA se Outeniqwa-tak. Alhoewel die tak die kleinste van al die takke is, is hulle baie betrokke by die gemeenskap en welsynswerk.
Die tak gee ook gereeld beurse aan leerders wat graag medies wil gaan studeer, of in die gesondheidsbedryf wil gaan studeer om verpleegsters te word.
Vermeulen het reeds in die 1970’s betrokke geraak as spandokter by die Oudtshoorn Rugby Unie. Baartman was vanaf 2010 tot April 2022 die president van die SWD Rugbyunie en is verlede jaar in April 2022 as lid van die uitvoerende raad van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) verkies.
Vermeulen het tydens sy spreekbeurt Baartman en sy span bedank vir die wonderlike werk wat hulle verrig by die skool, en vir die leerders.
Hy het afgesluit met ’n gedig wat hy geskryf het, spesiaal met onderwysers ingedagte.
“As ek eendag kon kies of ek tussen blommeprag en praal, onder luide trompet geskal en simbaal, in die rykmanskatedraal ter ruste gelê wil word of …in die middel van die dorre Karoo in ’n streepsak met ’n maer Karoo-brak op my graf wat die dynsende horison om verlossing staar… maar met die innerlike wete dat ek waarde tot die lewe van net een behoeftige armsalige of ongelukkige siel kon voeg, dan kies ek die wye Karoo,”
Baartman het op sy beurt gesê dat die fondse sal gebruik word om fasiliteite by die skool op te gradeer, en sal die geld aangewend word om stort- en badgeriewe en badkamers op te gegradeer en dit gemaklik en toeganklik maak veral vir kinders in rolstoele.
Verlede jaar het die raad reeds R20 000 aan die skool geskenk.
“Ons heg baie waarde aan enige donasie wat ons ontvang, want dis vir ons kosbaar,” het hy gesê.
Eljada-Kairos is die enigste spesiale skool van sy soort wat leerders vir verstandelik, fisies, Down sindroom en met outisme inneem. Die skool bedien areas so ver soos Laingsburg, Leeu-Gamka, Prins Albert, die Langkloof en selfs Beaufort Wes.
“Ons is trots op die werk wat ons doen, ek is selfs 30 jaar by die skool, en elke dag geniet ek my werk. Rugby is my tweede passie, maar onderwys is my grootste passie,” het Baartman gesê.
Die geheim agter hul sukses en ook onderwysers wat baie jare by die skool bly is hulle passie vir die kinders, en wat ’n vaderlike en moederlike figuur vir die kinders is.
Alhoewel die skool befondsing kry vanaf die staat, vul hul die tekortkoming aan met verskeie fondsinsamelings, en word die skool gereeld ondersteun deur verskeie besighede en inwoners van die Klein Karoo.
“Wanneer kinders by ons inkom wanneer hulle 6 of 7 jaar oud is, dan huil hulle want hulle is klein.
Die dag wanneer daardie kind klaar maak by die skool en afskeid geneem word, dan huil die kind weer, want hy wil nie gaan nie omdat die skool soos hulle huis is, en die onderwysers soos familie,”.
Hy sluit af dat hy bewus is dat dit moeilik gaan in die dorp, maar ten spyte daarvan word die skool steeds goed ondersteun deur die plaaslike besighede van Oudtshoorn, waarvoor hulle baie dankbaar is. (Deur Angelique Erasmus)