Positiewe groei te midde van uitdagings

Van links is Terblanche du Plessis (besturende direkteur van Klein Karoo Agri), David Malan (besturende direkteur Klein Karoo Saadproduksie), Johannes Delport (voorsitter: Klein Karoo Eiendoms Beperk - KKEB), dr Theo de Jager (gasspreker en voorsitter van die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai) en voormalige president van die Wêreldboereorganisasie), Jurgens Meyer (hoofbestuurder van KKEB) en Pieter Barnard (KKEB-bestuur). Foto: Angelique Erasmus

KLEIN Karoo Eiendoms Beperk het vanjaar baie goed gepresteer, veral as die moeilike ekonomiese klimaat in ag geneem word, sowel as ander bydraende faktore soos duurder insetkoste en ’n swak bestuiwingsjaar vir saad. So het Johannes Delport, voorsitter van KKEB, aan aandeelhouers en lede gesê tydens die algemene jaarvergadering verlede Vrydag (25 November 2022).

“Baie produsente in ons bedieningsgebied is steeds onder groot finansiële druk, en daarom poog ons voortdurend om die bes moontlike pryse vir produsente vir produkte gelewer te betaal,” het Delport gesê.

Volgens die groep se inkomstestaat was die omset vanjaar meer as 13,7% hoër as die vorige jaar en het dit tot R1,3 miljard toegeneem.

Die nettowins wat aan aandeelhouers toeskryfbaar is, het R37,5 miljoen beloop.

Daar is ook opwindende skuiwe wat in die nabye toekoms plaasvind, met Cape Karoo International (CKI) wat na hul nuwe gebou by die Emporium skuif en Klein Karoo Saadproduksie wat na die hoofgebou skuif.

Volgens Jurgens Meyer, hoofbestuurder van KKEB, is die uitmergelende droogte steeds nie gebreek nie en is KKEB deeglik bewus van die moeilike omstandighede waaronder produsente hul boerderye moet bedryf.

David Malan, besturende direkteur van Klein Karoo Saadproduksie, het tydens sy voorlegging verduidelik dat die grootste impak vanjaar onge­twyfeld die ongelooflike prysstyging in feitlik alle landbou-insette was.

“Die gedeeltelike nalatenskap van die Covid 19-pandemie, maar veral die massiewe impak van die oorlog in Oekraïne, het kern-insetkoste oornag die hoogte laat inskiet,” het Malan gesê.

Ten spyte daarvan het KKSP se omset steeds met 4% toegeneem na R475 miljoen vir die jaar.

Ongelukkig het die swak bestuiwingsjaar vir saad en haelskade ’n daling van meer as ’n 23% in saadverkope tot gevolg gehad.

Terblanche du Plessis, besturende direkteur van Klein Karoo Agri, het tydens sy verslag gemeld dat hul omset vanaf R741 miljoen in 2021 met R158 miljoen tot R899 miljoen vir die 2022-boekjaar gestyg het.

Faktore wat daartoe bygedra het, was hoër inset­koste, brandstofpryse wat gestyg het, kunsmis, plantplaag en die geweldige styging in die pryse van veevoer. Daar was ook die toevoe­ging van ’n nuwe meganisasietak op George wat ’n positiewe impak op die omset gehad het.

Hierdie is ook die derde jaar vandat Klein Karoo Internasionaal en Mosstrich saamgesmelt het om Cape Karoo International te vorm, bekend as CKI, en hul voorlegging is deur Francois de Wet, die besturende direkteur die vorige week op 17 November 2022 gedoen.

Ten spyte van ’n 28%-verlaging in slaggetalle van volstruise gedurende die afgelope slagseisoen, het CKI se omset steeds met 12% toegeneem tot R1,305 miljard en is ’n voorbelaste wins van R57,4 miljoen behaal.

Leer het die voortou geneem met 47% van totale verkope en het R603 miljoen beloop. Vleis het R421 miljoen beloop en vere sowat R189 miljoen. In totaal word slegs ongeveer 30% van alle volstruisprodukte, wat leer, vleis en vere insluit, in Suid-Afrika verkoop. Die res word na Europa, Amerika, Suid-Amerika en Asië uitgevoer.

“Die nuwe jaar sal vir seker sy eie uitdagings bied, maar ons pak die jaar aan met die nodige fokus om op ’n verantwoordelike wyse, die beste moontlike prsye aan ons verskaffers van roumateriaal te betaal,” het De Wet gesê.

Dr Pieter Mulder, ’n bekende politieke ontleder en voormalige parlementslid, het tydens CKI se vergadering as gasspreker opgetree.

Dr Theo de Jager, voorsitter van die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai), het op sy beurt tydens die KKEB vergadering boere toegespreek oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika. (Deur Angelique Erasmus)