Pastoor van Rooiheuwel sterf in botsing; kinders beseer

Foto's: Liesel le Roux en verskaf

‘n Pastoor wat in die Rooiheuwel-omgewing buite Oudtshoorn woon, het vanoggend gesterf kort nadat die Mazda waarmee hy gery het en ‘n Isuzu-bakkie gebots het waar ‘n grondpad in die Rooiheuwelpad indraai. Die oorledene se naam is nog nie bekend gemaak nie.

Sy twee kinders, ‘n seun(9) en dogter (7), is albei in die botsing beseer. Die seun het hoofbeserings opgedoen en is met die AMS-helikopter van die George Hospitaal geneem, terwyl die dogter per ambulans na die Oudtshoorn Hospitaal geneem is. Een van die agt mense wat tydens die botsing agterop die bakkie gesit het, is ook na verneem word in die hospitaal opgeneem.

Die pastoor was na bewering op pad om sy twee kinders skool toe te vat toe die botsing plaasgevind het. Hy het met ‘n grondpad van waar hulle woon in die Rooiheulwelpad ingedraai toe die twee voertuie mekaar getref het.

Sy vrou en baba asook verskeie ander inwoners van die omgewing was op die botsingstoneel.

Die pad was vir meer as twee ure gesluit terwyl die oorledene en beseerdes weggeneem en die voertuie daarna ook verwyder is.