Oudtshoorniete skitter met vele Kanna-benoemings!

Drie akteurs wat die naweek genomineer is vir die gesogte Kanna-toekennings is Marlo Minnaar wat op Oudtshoorn grootgeword het (bo), en Janion Kennedy (ook bekend as die kletsrymer Noem-woord, regs) en Mirinda Ntantiso (heel regs) vir hul spel in die produksie Op hierie dag. Foto’s: Hans van der Veen

OUDTSHOORNIETE én oud-Oudtshoorniete skit­ter vanjaar op die lys benoemdes vir die Kanna-toekennings wat erkenning gee aan uitsonderlike bydraes tydens die KKNK. Die name van die benoemdes is die naweek bekend gemaak

Die Oudtshoorn-produksie Op hierie dag spog met ’n indrukwekkende sewe benoemings in die kategorieë beste teateraanbieding; die Slurpie-kanna vir beste opkomende kunstenaar – Janion Kennedy (Noemwoord) en Marinda Ntantiso; beste vroulike byspeler: Marinda Ntantiso; beste regie: Neil Coppen en Tiffany Saterdaght; beste tea­terontwerp (Zietske Zaaiman, ondersteun deur die geselskap) en uitnemende literêre bydrae (Neil Coppen en Tiffany Saterdaght vir die teks met bydraes van Janion Kennedy, Hannes Visser, Theo Witbooi en Denver Manuel – Danny B).

Die aangrypende eenmanstuk Die halwe huis het drie benoemings gekry in die kategorieë beste debuutwerk, beste akteur: Marlo Minnaar en uitnemende literêre bydrae vir die teks daarvan: Ricardo Arendse. Minnaar en Arendse het albei op Oudtshoorn grootgeword.

Volgens die sameroeper van die onafhanklike Kanna-paneel, Rafiek Mammon, het alle produksies op vanjaar se feesprogram in aanmerking ge­kom vir die Kannas wat in 14 kategorieë toegeken sal word. Hy sê die onafhanklike paneel het elke oggend voor agt al gesit en bespiegel oor die vyf tot ses stukke wat elkeen die vorige dag gesien het.

“En elke oggend – tot en met die laaste dag van die fees – is gesprekke met passie, erns en liefde deur­drenk. Dit het nie net gegaan oor die feit dat ons weer in lewende lywe kon fees nie, en om gehore en kunstenaars te kon sien en hoor nie. Dit het oor die kwaliteit van die werk gegaan. Die gehalte van produksies by die KKNK was so goed dat die paneel letterlik gewroeg het om ’n kortlys van benoemdes saam te stel onder die verskeidenheid waardevolle aanbiedings.”

Die toekenningsgeleentheid vind op 22 April in Kaapstad plaas.

Stefan Skapie Goosen berig die span van Op hierie dag is almal in die wolke en baie dankbaar oor die prestasie, asook vol lof vir mekaar.

Volgens regisseur Neil Coppen is die hele span verheug oor die reaksie op en ontvangs van die produksie. “Ek is ongelooflik trots op hierdie ‘kinders’, hulle het so hard gewerk en hulle verdien al die toejuiging. Ek hoop hulle wen al die toekennings!” Hy het ook die skryfspan geprys vir hul uitstekende bydraes tot die produksie.

Tiffany Saterdaght wat by die regie en skryf van die teks betrokke was, sê dat die gevoel wat sy ervaar sedert sy van die benoemings gehoor het, is onbeskryflik. “Vir iemand wat veronderstel is om goed te wees met woorde, is ek sonder woor­de! Ek besef nou dat ons onderskat is. Mense het gedink hierdie is net gemeenskaps­teater; net ’n cute show. Niemand het verwag dit sou life-changing wees nie. Ek het net nie woorde nie,” sê sy.

Saterdaght sê die benoemings beteken ook baie vir haar loopbaan. “Hierdie kan my lewe verander. Dit raak nou ’n bousteen vir my toekomstige sukses. Ek is so dankbaar vir die geleentheid, vir Neil se insig en wysheid en vertroue in my en almal wat betrokke was.” (Deur Liesel le Roux)

Groot opgewondenheid!

• Neil Coppen: “Ons was almal so opgewonde toe ons hoor van die benoemings. Almal het mekaar oor en weer gebel, gelag en geskree en gehuil!”

• Mirinda Ntantiso: “Ek kan net aan God die eer gee vir dié benoemings. Dit was ’n eer om deel te kon wees van so ’n awesome produksie, met awesome mense.”

• Janion Kennedy (Noemwoord): “Dit maak al die harde werk, opofferings, laat nagte en vroeë oggende die moeite werd. Ek kry elke keer sulke rillings as ek daarvan praat. Vir iemand soos ek wat nog nooit benoem is vir so iets nie, is dit rêrigwaar iets groot!”