Oudtshoorniete dans dat die biesies bewe!

Oudtshoorniete sit Saterdag hul beste voetjie voor tydens die Jerusalema-dansuitdaging in Baron van Reedestraat. Inwoners van dwarsoor die dorp het saamgedans het en is almal die middag met ’n groot glimlag op die gesig huis toe. Foto’s: Stefan Skapie Goosen

DIE voete het gestamp en die heupe behoorlik geswaai toe Oudts­hoor­niete Saterdag die Jerusalema-dans­uitdaging in Baron van Reede­straat getakel het.

Meer as ’n 1 000 mans, vroue, ooms, tannies en kinders het hul bes­te voet voorgesit en bymekaargekom om hierdie nou wêreldbekende dans-uitdaging kaf te draf – een groep aan die een kant van die verkeerseiland tussen Voortrekkerweg en St Johnstraat, en ’n ander groep aan die ander kant van die verkeerseiland.

Na weke se oefen het almal presies geweet watter voet eerste moet trap, en na watter kant toe die heupe eerste moet swaai.

Volgens die organiseerder, Ingrid Noble, het die dag haar stoutste verwagtinge oortref.

Sy sê al het sy met die afskop van dié inisiatief begin September nog ge­hoop dat 2 000 mense die dag sou kon saamdans, het sy gou besef dat Covid-19 ’n impak op deelname­syfers sou hê.

“Die dansery was egter baie suksesvol en vir almal wat daar was, opwin­dend. Mense is nou, ná die dans, steeds opgewonde daaroor en wil weer dans!

“Dié samekoms van Oudtshoor­nie­te het gewys dat eenheid die sleutel is om ons te help om deur hierdie moeilike tye te kom.

“Dit het hoop gebring en ook ’n vertroue dat alles uiteindelik goed sal gaan. Dans en musiek is goed vir die siel. Ek dink ons almal moet dit meer doen.”

Noble sê Saterdag se dansuitda­ging waaraan Oudtshoorniete so geesdriftig deelgeneem het, het nie net plaaslik opslae gemaak nie, maar ook regoor Suid-Afrika en selfs wêreldwyd. Die SABC was op die toneel en het daar­oor berig, terwyl ’n video wat Ingrid oor die dag laat maak het, ook landwyd én wêreldwyd gedeel is.

“Op Facebook is daar boodskappe van mense van regoor die wêreld wat videos van die dansery gesien het. Die inwoners van die dorp het ’n absoluut integrale rol in die sukses van die dag gespeel – dit was ’n uitsonderlike dag!”

Noble sê dat dit baie moeilik is om te bereken hoeveel mense gedans het, maar dat sy baie bly is oor die geesdriftige samewerking.

Selfs Oudtshoorn se burgemeester, Chris Mcpherson, en van die ander raadslede het saamgedans.

Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, sê Saterdag was ’n heuglike dag vir alle Oudts­hoor­nie­te.

“Ons het dié dag die swaar, donker kleed van die inper­king van ons skou­ers afgeskud en kyk nou die toekoms vierkant in die oë. Ons moet trots wees op onsself, want ons het vir Suid-Afrika gewys wat kan gebeur as almal in ’n dorp saamstaan en saam optree.”

Mangqwengwe sê die munisipaliteit wil al die dansers wat so fluks geoefen en so goed vertoon het, bedank. “Hierdie is net die begin en ons gaan soortgelyke geleenthede in al ons dorpsgebiede aanpak. Bridgton, Dysselsdorp en De Rust moet kom met voorstelle vir geleenthede waar ons al ons mense kan betrek. Ek is trots om ’n Oudtshoorniet te wees!” (Deur Stefan Skapie Goosen)