’N OUDTSHOORNIET wat sinoniem was met die skoonheidsbedryf op Oudtshoorn, Christa Bower (59), is Saterdag in die Mediclinic George oorlede nadat Covid-19 onlangs by haar gediagnoseer is.
Sy was die afgelope 38 jaar lank die eienaar van Christa’s Skoonheid en Haarkliniek in St Saviourstraat.
Blomme en blomruikers ter nagedagtenis aan Christa is Maandag deur inwoners op die stoep van die salon geplaas nadat haar dogter, Christel Reid, op Facebook geskryf het dat mense haar ma so kan huldig. Christel het saam met haar ma as skoonheidsterapeut gewerk.
“Die salon was Mamma se trots, Mamma se passie en Mamma se gunsteling plek op aarde. 38 jaar lank bou Mamma al aan Mamma se droom. En dit is suksesvol,” het Christel Sondag op Facebook geskryf en gesê mense kan ’n blom op haar ma se “gunsteling-stoep” kom neersit.
Volgens haar man, Wessels, was sy sedert verlede week aan ’n ventilator gekoppel. Wessels is ’n oud-speurder van Oudtshoorn. Hy het volgens Christel haar ma ontmoet toe hulle onderskeidelik net 17 en 15 jaar oud was. “Hulle ken mekaar langer as wat hulle mekaar nie ken nie! Hulle was ongelooflik lief vir mekaar!” het Christel gesê.
Christel het Dinsdag aan Die Hoorn vertel dat dit moeilik is om haar ma op te som. “Sy was so ’n wonderlike vrou, met soveel goeie kwaliteite. Sy was regtig ’n rolmodel vir baie mense, en haar werk en salon was haar trots. Sy het die gebou gekoop toe sy 21 jaar oud was, en tot vandag toe is dit steeds suksesvol. Al het ander salonne oor die jare oop- en toegemaak, het sy bly staan.”
Volgens Christel is dit ’n bewys van haar ma se deursettingsvermoë. “Sy het nooit opgegee nie, en altyd iets nuut in die salon probeer,” vertel sy.
Sy sê haar ma se stempel was oral te sien, ook in die salon.
“Die familie het altyd geterg dat Mamma die ‘spietkop’ van die familie was. Sy het ons op ons tone gehou, en sy het ons laat voluit lewe saam met haar. Sy was die gom van ons familie, en ongelooflik lief vir haar kleinkinders. Sy het alles vir hulle en vir ons gedoen.”
Sy sê ’n mens kon haar ma altyd deur ’n ring trek. “Al was sy ’n hele Sondag lank net by die huis, het sy altyd stunning gelyk.
“Net so was sy baie lief vir haar kliënte, en hulle was elkeen soos ’n vriendin vir haar. Sy het baie keer gereël dat my pa die tannies van die ouetehuise gaan haal het vir hul afsprake, en het sommer gereeld verjaardagpartytjies vir hulle gehou.”
“My ma was absoluut fenominaal, ’n ware engel op aarde, en ons mis haar verskriklik baie. Niks sal seker ooit weer dieselfde wees nie.”
Benewens Wessels en Christel word Christa oorleef deur twee seuns, Wessels en Terblanche, en vier kleinkinders. (Deur Stefan Skapie Goosen)