MENSE dwaroor Suid-Afrika (én die res van die wêreld) sal eersdaags saam kan hekel met die Oudtshoorn-reWOLusieprojek se nuutste inisiatief wat begin Mei geloods word en Saterdagoggend (17 April) op Oudtshoorn bekend gestel is.
Die reWOLusieprojek het in 2019 voor die KKNK ontstaan toe die hele dorp – van bome tot pilare tot fietse en motors – met gebreide en gehekelde wolprodukte versier is. Daarna het die projek net gegroei en ’n ware gemeenskapsprojek geword van mense wat oor kultuur- en dorpsgrense begin saambrei en -hekel het – en ook ’n vennoot geword van die jaarlikse 67 Blankets for Mandiba. Verlede jaar is meer as 2 000 komberse uit die reWOLusie-projek aan behoeftige mense op Oudtshoorn geskenk.
Vanjaar raak die reWOLusie-projek egter groter en kry dit ’n nasionale voetspoor, sê Madeleine Miles, inisieerder en projekleier van reWOLusie.
’n Hekelpatroon vir ’n lieflike kombers is deur ’n kreatiewe Oudtshoorniet, Bets Wilkinson, ontwikkel en sal vanaf Maandag 3 Mei oor ’n tydperk van 13 weke elke Maandag stuk vir stuk met ’n instruksievideo op die KKNK se webblad (kknk.co.za, klik op PROJEKTE en kies ReWOLusie) geplaas word, en op die KKNK se Facebook-blad.
Aan die einde van die 13 weke sal elke deelnemer dan ’n volledige kombers hê,” sê Wilkinson. “Deelnemers kan hul komberse hou, of vir iemand as ’n geskenk gee, of skenk vir ’n liefdadigheidsveiling op Nasionale Vrouedag, 9 Augustus. Alle geld wat so ingesamel word, sal gebruik word vir bemagtigingsprojekte onder vroue in Oudtshoorn.”
Daar is ook ’n opsie vir diegene wat nie kan of wil hekel nie, maar tog so ’n handgemaakte kombers begeer. Vir ’n skenking van R1 800 sal die projek die nodige wol en ander hulpmiddele koop en iemand aanstel om vir jou so ‘n kombers te hekel. Verskeie kleurkombinasies sal beskikbaar wees.
Mense wat ongebruikte wol het, word versoek om dit aan die projek te skenk. “Elke bol wol tel,”sê Miles.
MAAK SO AS JY WIL DEELNEEM: As jy aan vanjaar se reWOLusie-projek wil deelneem, kontak Daleen Witbooi by 044 203 8600, of stuur ’n e-pos na info@kunste.org.za. Vir die nasionale hekel-saam-inisiatief is registrasie verpligtend.
OUDTSHOORNIETE KAN SO MAAK: Oudtshoorniete kan ook, soos in 2020, komberse hekel of brei wat aan behoeftiges in die plaaslike gemeenskap geskenk sal word. Voltooide komberse kan by die KKNK-kantoor in Jan van Riebeeckweg 217, Oudtshoorn, afgelewer word, waarvandaan dit aan behoeftiges versprei sal word. En as jy nie genoeg wol het nie, kom kyk wat beskikbaar is by die KKNK-kantoor – ’n beperkte voorraad wol is beskikbaar, danksy skenking van Ansa en die Oudtshoorn Besigheidskamer. (Liesel le Roux)