NEGE verdagtes tussen 34 en 61 jaar oud is Vrydag (18 Februarie) op Oudtshoorn in hegtenis geneem tydens ’n gesamentlike operasie deur provinsiale speurders verbonde aan die SAPD se gespesialiseerde eenhede vir kubermisdaad, handelsmisdaad, misdaadintelligensie en die Wes-Kaapse Departement van Vervoer. Die verdagtes is werknemers van die Oudtshoorn Verkeersdepartement asook die eienaar en werknemers verbonde aan ’n plaaslike bestuurskool.
Volgens kapt Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die inhegtenisnames gevolg op ’n geheime ondersoek oor ’n tydperk en deel uitgemaak van Operasie Vura wat in Julie 2021 geloods is.
Die verdagtes is na bewering almal betrokke by ’n georganiseerde sindikaat wat leerling- en/of bestuurslisensies aan aansoekers uitgereik het in ruil vir vergoeding.
Die gesamentlike span het Vrydag met deursoekings- en beslagleggingslasbriewe op die Oudtshoorn-bestuurslisensiekantoor asook huise van geïdentifiseerde verdagtes toegeslaan. Daar is ook beslag gelê op ’n Mercedes 14 ton-vragmotor, ‘n motor, selfone, rekenaartoerusting en ‘n onbekende bedrag kontant. Volgens Pojie hou dit direk verband met die onwettige transaksies.
Die verdagtes is almal in polisie-aanhouding en sal Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn.
Volgens Pojie sal borgtog teengestaan word weens die omvang van die misdrywe wat gepleeg is. “Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte wat verband hou met, maar nie beperk is nie, tot oortredings van die padverkeerswet, bedrog, korrupsie en geldwassery.” (Deur Liesel le Roux)