Oud-hoofseun van Gim sterf tragies

Johann Müller (20). Foto: Facebook

HY was ’n gebore leier, ’n sportman by uitnemendheid, ’n nederige en diep gelowige mens.

So het mense die week ’n oud-hoofseun van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, Johann Müller (20), bestempel wat Saterdag omstreeks 05:36 in ’n botsing op die N12 tussen Klerksdorp en Wolmaranstad gesterf het.

Johann, ’n student in sy tweede jaar aan die Noord­wes Universiteit op Potchefstroom en inwoner van die koshuis Over de Voor, was op pad huis toe vir die wintervakansie.

Johann se pa, Gert, het gister met Die Hoorn gepraat op pad terug van Klerksdorp waar hy, sy vrou, Anna, en ’n vriend hul seun se liggaam gaan haal het.

Volgens hom word die oorsaak van die botsing nog ondersoek, maar wil dit voorkom of Johan van die pad afgery het toe twee vragmotors langs mekaar van voor gekom het. Die een vragmotor het Johan se motor wat op die gruis langs die teeroppervlak was, getref en klaarblyklik sowat 130 meter ver gesleep.

Johann is die tweede seun wat die egpaar verloor. Hul oudste seun, Gysie, was nege jaar oud toe hy in 1998 in ’n ongeluk gesterf het toe ’n bakkie se band gebars en gerol het.

Johann was in 2019 Langenhoven Gimnasium se hoofseun en het tydens sy skooldae uitgeblink in sport.

Hy het die Gimmies in rugby, sewesrugby en krieket op provinsiale vlak verteenwoordig. Onder sy leiding as kaptein is die
Gimmies se T20-krieketspan as die SWD se skolekampioen in 2019 gekroon terwyl die skool se eerste krieketspan ook die SWD se o.19-Superligakampioenspan was. Onder sy kapteinskap het die Gimmies se eerste rugbyspan ook groot sukses behaal.

In ’n huldeblyk op die Gimmies se Facebookblad word Johann beskryf as ’n natuurlike leier, ’n nederige en positiewe mens, wat alles wat hy aangepak het, met oorgawe gedoen het.

Die huldeblyk lui onder meer:

“Hy het die vermoë gehad om telkens te kies wat reg was en nie dit wat die wêreld as die pad na gewildheid voorhou nie.

“Ons eer sy nagedagtenis – almal met wie sy pad gekruis het, sal hom vir altyd onthou vir wie hy was en die beginsels wat hy met sy onkreukbare karakter uitgeleef het.”

Johann het in sy koshuis en op universiteit as “Bishops” bekend gestaan, omdat hy diep gelowig was en baie mede-studente geestelik bygestaan het.

Volgens sy pa het Johann en ’n medestudent Saterdagoggend nog saam in die gang gebid voordat hy om 04:00 op sy reis na Ladismith vertrek het.

Johann word oorleef deur sy ouers, Gert en Anna, van Ladismith, en twee susters, Lizanne Müller en Christa Niewoudt. (Deur Liesel le Roux)