
DIE bestuurder van ’n vragmotor wat lusernbale vervoer het, Johannes (Hansie) Pietersen (49), het Saterdagaand (19 Maart) gesterf nadat die vragmotor wat hy bestuur het, anderkant De Rust omgeslaan het. Die voertuig het daarna van die pad by ’n brug en teen ’n steilte af tot in die veld gegly.
Pietersen was vanuit die Oos-Kaap op pad terug Oudtshoorn toe met ’n vrag lusernbale vir Karoo Lusern.
Hy het jare lank vir Karoo Lusern gewerk, onder meer as langafstand-vragmotorbestuurder.
Volgens sers Chris Serfontein, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het die ongeluk omstreeks 21:45 op die R341 in die omgewing van die plaas Doornkloof plaasgevind.
Pietersen het verskeie beserings in die ongeluk opgedoen en is nadat hy ure later bevry is, op die toneel deur paramedici dood verklaar.
’n Boer van die omgewing wat die reddingswerkers bygestaan het, Oubaas Schoeman, sê die ongeluk het naby sy huis plaasgevind. Volgens hom moes reddingswerkers dele van die voertuig oop- en wegsny om Pietersen se liggaam te bereik.
“Ons was seker eers so teen halfdrie klaar.”
Die Polisie ondersoek tans die omstandighede wat tot die botsing aanleiding gegee het. ’n Nadoodse ondersoek om die oorsaak van sy dood vas te stel, word vandeesweek gedoen.
’n Swaer van Pietersen, George Meyer, het hom Dinsdag bestempel as ’n besonderse mens.
“Hy was my swaer, maar ook ’n ouer broer en vriend, alles in een.”
Volgens hom is Pietersen se dood ’n groot skok vir sy vrou, Maria, hul drie kinders en hele familie van Dysselsdorp.
Pietersen het ook drie ouer kinders.
Cornel Landman, eienaar van Karoo Lusern, sê Pietersen se dood is ’n groot verlies.
“Hy was ’n aangename mens. Hy het gehou van grappies en nooit vir enigiets nee gesê nie. Niks was vir hom te veel nie.”
Volgens Landman is Pietersen middel verlede jaar ook in ’n ongeluk beseer. Hy het nadat hy herstel het ’n lang ruk ander take verrig. So ’n maand gelede het hy egter weer langpad begin ry.
“Hy het gesê hy leef vir die langpad en gevra of hy weer kan ry. Vrydag het hy gevra of hy kan terugry sodat hy Sondag by sy familie kan wees.”
Maria Pietersen het Dinsdag aan Die Hoorn gesê die familie beoog om haar man Saterdag te begrawe. (Deur Liesel le Roux)