Ontwikkeling kom, sê burgemeester

Chris Macpherson.

VERSKEIE groot ontwikkelings­inisiatiewe wat ’n ekonomiese in­spui­ting van R520 miljoen vir die Groter Oudtshoorn se ekonomie kan beteken, is gister deur die burge­mees­ter, Chris Macpherson, bekend gemaak.

Dié inisiatiewe is daarop gemik om die ekonomie van die dorp te stimuleer, te onderhou en hoop vir die inwoners te gee, het Macpherson gesê.

“Met elke krisis is daar potensieel ook ’n oor­vloed nuwe geleenthede.

Covid-19 was rampspoe­dig vir baie gesinne, besighede en die in­komste van baie mense. As ’n dorp weier ons egter om ons hande te vou en ’n nederlaag te aanvaar.”

Volgens Macpherson het die munisipaliteit in samewerking met Old Mutual en PricewaterhouseCoopers ’n aantal ontwikkelingsprojekte geïdentifiseer om die ekonomie van die dorp te stimuleer.

Dié projekte sluit die volgende in:
• ’n Nuwe sonenergie-plaas tussen Oudtshoorn en Dysselsdorp asook die invoer van privaat-opgewekte energie in die munisipale elektrisiteits­netwerk, wat op sy beurt ’n verlaging in die munisipaliteit se elektrisiteitsrekening tot gevolg behoort te hê.

• Die opgradering van die dorp se atletiekbaan en sportgeriewe om Oudtshoorn verder te vestig as die mekka vir sporttoerisme in die Wes-Kaap,

• ’n Nuwe ontwikkelingsone aan die westekant van Oudtshoorn wat strek van die driehoek buite die dorp (by die skeiding van die roetes na Calitzdorp en Mosselbaai) verby die lughawegebied tot in die omgewing van die skouterrein. Dit sluit ook die ligte nywerheids- en handelsont­wikkeling van Klein Karoo Beperk asook behuisings­projekte in.

• Die ontwikkeling van die Oudtshoorn Lug­hawe.

• ’n Nuwe streekswinkelsentrum op die hoek van Langenhovenweg en Rademeyerstraat, wat nuwe belegging sal lok en wat binnekort sal afskop.

• Ander ontwikkelings waaraan tans oorweging geskenk word, is die Bridgton Win­kelsentrum wat op die behoeftes van die inwoners in sy omgewing sal fokus, ’n kantoor-en-hotel­kom­pleks in die middedorp-om­gewing, ’n private daghospitaal wat sal fokus op bejaardes, en ’n privaat-inisiatief vir die vestiging van ’n swaar nywerheidsgebied buite die dorp.

“Die kapitaalinspuiting vir die Groter Oudts­hoorn sal sowat R520 miljoen beloop met ’n maandelikse diensinkomste van meer as ’n halfmiljoen rand.

Die geleenthede vir werkskepping op die kort en die mediumtermyn sal help om ons groeiende armoede-uitdaging te verlig.”

Macpherson sê dit is ook baie belangrik dat Oudtshoorn se sentrale sakegebied moet herleef en dat die nodige stimulus geskep word om dit te bereik.

“Ons moet nou begin om straatkafee-geleent­hede en selfs opedagmarkdae vir ons restauranteurs en toerisme-ondernemings te skep. Die inwoners van ons buurdorpe en elders is op soek na nuwe, opwindende bestemmings wat ons graag sal wil bied.

“Ons moet innoverend en ekonomies selfstandig wees. Dit is nou die tyd om ons potensiaal te ontgin en om uitdagings wat ons in die gesig staar, te oorkom.”

Macpherson sê die Groter Oudtshoorn as die belangrikste plaaslike owerheid in die Klein Karoo, gaan alles in die stryd werp om beleggings te lok en ’n omgewing te skep “wat ons in staat stel om ons talente en hulpbronne te benut”.

’n Groot en feestelike geleentheid word ook vir volgende jaar beplan vir belangstellendes en beleggers uit alle sektore.

“Alle munisipale, provinsiale en nasionale departemente sal hul dienste hier bekend stel, saam met plaaslike ondernemings wat die wye reeks produkte van hier sal uitstal, terwyl ’n toerisme-indaba ook sal plaas­vind.”

Macpherson het inwoners en besighede van die Groter Oudtshoorn aangespoor om te midde van moeilike tye hoopvol te bly.

“Die enigste voorvereiste vir sukses is dat ons in onsself, in mekaar en in ons dorp moet glo. Ons moet eienaarskap neem van ons toekoms en ver­klaar: Ek is Oudtshoorn.” (Deur Liesel le Roux)