Nuwe skutreëls ontstel

Oudtshoorn se munisipale skut, net buite die dorp. Foto: Lindi Brill

Inwoners van Oudtshoorn is ongelukkig oor die gewysigde besoektye van die Munisipale skut op Oudtshoorn. Die gewysigde ure is tydens ’n munisipale kennisgewing op 11 Julie in plaaslike koerante en op Facebook geplaas.

Volgens die kennisgewing is die besoektye slegs van Maandae tot Donderdae 11:00 – 13:00 & 14:00 – 15:00, Vrydae 11:00 – 12:00 en is hulle gesluit op Saterdae en Sondae. Die kennisgewing dui ook aan dat daar geen aannemingsfooi betrokke is by die aanneem van ’n dier nie. Baie mense het op die Facebook-groep, Oudtshoorniete Staan Saam, hul misnoeë oor die tye uitgespreek.

Volgens van die inskrywings is hulle ongelukkig oor die feit dat inwoners deur die week werk en nie tydens die voorgeskrewe besoekure by die werk kan wegglip nie. Wanneer hulle wel af is op ’n Saterdag, is die skut gesluit. Die bekommernis bestaan dat dit die getal diere wat wel aangeneem gaan word, sal verminder.

Nog ’n bekommernis is die feit dat daar geen aannemingsfooi betrokke is nie, en voel baie inwoners dat enige persoon nou ’n dier kan gaan aanneem, afgesien daarvan of hul die finansiële vermoë het om na die dier om te sien of nie.

Volgens Lee-Ann van Sittert, wat jare lank betrokke is by dierewelsyn in Oudtshoorn, is die tye van die skut belaglik, want dit is tye wat mense werk. “Mense wil in hul etenstyd of naweke na die hokke gaan om na die diere te kyk en te kies watter dier hulle wil aanneem. Hulle wil tyd saam met die dier spandeer wat vir aanneeming oorweeg word, maar nou word hulle gesnoeker met die nuwe tye”, het Van Sittert aan Die Hoorn gesê.

Die afwesigheid van ’n aannemingsfooi is ook vir haar ’n groot bekommernis omdat sy voel dat enige persoon nou ’n hond of kat kan aanneem, sonder dat die dier gesteriliseer of ingeënt word.

Van Sittert sê verder: “Ek voel dat die persoon wat daardie besluite geneem het, eers met al die dierebeskermingorganisasies om ’n tafel moes sit en insette gekry het van mense wat al meer as 15 jaar betrokke is in die beskerming en die aanneem van diere”.

Sy voorsien dat daar ’n groot probleem gaan ontstaan, waarna die welsynorganisasies weer moet intree om enige mishandeling en aanteel te bekamp en weer die leiding sal moet neem.

Lizelle Mouton, wat ook betrokke is by dierewelsyn in Oudtshoorn, is net so bekommerd oor die situasie. Volgens haar is dit baie belangrik dat hierdie diere blootstelling en aandag van mense kry sodat hulle nie sku en aggressief raak nie. Die besoekers het ook met hulle gaan stap, wat die honde uit hulle hokke kry en ‘kennel stress’ verminder. “In die verlede as ons die diere besoek het, was daar soms tekorte met betrekking tot die versorging van die diere deur die personeel of diere wat siek is wat die personeel nie na oplet, wat ons dan kon raaksien en regstel. Soos byvoorbeeld, hokke wat nie op standaard skoongemaak word nie, of honde wat verskree word en dan bang agter in die hok gaan wegkruip. As ons nie meer vir langer as ’n uur op ’n dag daar kan wees nie, is daar niemand wat kan uitkyk na die belange van hierdie diere nie”, het Mouton bekommerd aan Die Hoorn gesê.

Die Hoorn het besoek by die munisipale skut afgelê en met een van die werkers gesels oor die feit dat die besoekure aangepas is.

Volgens hom is dit vir hulle makliker om die hokke in die oggend en in die middae skoon te maak sonder dat daar besoekers heen en weer tussen die hokke beweeg.

“Terwyl ons die hokke skoonmaak is daar altyd die gevaar dat een van die honde uit ’n hok uit kan glip as ’n hek oopgemaak word en ’n besoeker kan byt of ’n ander dier aanval”, het hy gesê.

Hy sê egter dat die kantoorure nog altyd van 07:30 tot 16:30 is en dat enige iemand nog steeds na die kantoor kan kom as hulle ’n dier wil aanneem, en dan net tydens die besoekure die hond kan besigtig wat hulle graag wil huis toe neem.

Op die vraag waarom daar geen aanneemingsfooi betrokke is nie, het hy gesê dat daar nog steeds ’n baie streng proses vir aanneming is waar ’n aansoekvorm ingevul moet word, huis-inspeksies gedoen word, en die aansoek afgekeur word as die aannemer nie aan die vereistes voldoen nie. Inen-tings en sterilisasies word ook gedoen voordat ’n aanneming plaasvind.

“Dit is nie asof ons net diere uitdeel aan enige iemand wat hier inkom en een wil hê nie”.
Die Hoorn het ’n navraag aan die Oudtshoorn Munisipaliteit gestuur oor hierdie kwessies.

Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het die Munisipaliteit die inisiatief begin om goeie en liefdevolle huise vir die diere by die skut te verseker deur geen aannemings fooi te vra vir persone wat ’n hond of kat wil aanneem nie.

“Alhoewel die aanneming gratis is, moet daarop gelet word dat daar nog steeds sekere fooie is wat deur die aannemer betaal moet word. Hierdie sluit ’n sterilisasie-, inentings-, ontwurmings- en ondersoekfooi in”, het Mle in die verklaring gesê.

Sy sê verder dat as deel van die aanneemproses word ’n streng huis- en erfinspeksie gedoen deur die Munisipale skutoffisier. Die aansoek sal afgekeur word indien daar nie aan die vereistes voldoen word nie. Die idee van gratis aanneming is om te verseker dat meer diere aangeneem word en ’n liefdevolle huis kan hê.

Oor die besoekure sê Mle dat daar ’n groot verskil is tussen die bedryf van ’n munisipale skut en ’n welsynorganisasie. Die skut dien slegs as ’n plek waar verlore of rondloperdiere aangehou word en fokus op die beheer van diere en die veiligheid van die publiek.

“Die Munisipaliteit gaan egter binnekort ’n publieke deelnameproses met vrywilligers begin om die publiek meer betrokke te maak by die welsyn en verantwoordelikheid van diere. Daar is ook alreeds ’n stuk grond bekom reg oorkant die huidige skut, waar alle diere wat aangeneem kan word, gehuisves sal word. Hierdie fasiliteit sal dan ook meer toeganklik wees vir besoekers”, sluit Mle die verklaring af.