Nuwe seisoen vir mooiste Mia

Foto verskaf. Foto onder: Oudtshoorn se trots en Mej SA 2024. Foto: SJ van Zyl

Sy sien baie uit na die nuwe seisoen in haar lewe wat nou aangebreek het, sê Mia le Roux wat Saterdagaand haar kroon as Mej SA aan Qhawekazi Mazaleni van die Oos-Kaap oorhandig het.

Dit was ’n besonderse oomblik toe Mia, wat doof is en hoor met die hulp van ’n kogleêre inplanting wat sy op twee jaar gekry het, vir Qhawekazi, ’n spraakterapeut, kon kroon. Mia, wat op Oudtshoorn grootgeword en skoolgegaan het by Hoërskool Oudtshoorn, is in Augustus 2024 as Mej SA gekroon en het haar tydens haar Mej SA-jaar beywer vir inklusiwiteit, veral vir mense met gestremdhede. Mia sê die jaar as ’n Mej SA kan jou lewe verander as jy dit reg aanpak.

“Diegene wat dink dit gaan oor glans en bekendheid, maak ’n fout. ’n Jaar as Mej SA bied jou die geleent-heid om hard te werk en passievol te wees oor dit waarvoor jy staan. Maar jy moet eg wees.”
Sy sê sy is opgewonde oor haar planne vir die toekoms.

Sy beoog om voort te gaan met haar betrokkenheid by werkswinkels vir mense met gestremdhede en om so inklusiwiteit te bevorder. Sy wil ook ’n verskil maak binne die korporatiewe wêreld sodat meer werksgeleenthede vir mense met gestremdhede beskikbaar sal word.

Onder die hoogtepunte van haar jaar was ’n vennootskap tussen die Mia le Roux Movement, Dis-Chem Foundation, Operation Healing Hands en die Pretoria Kogleêre Eenheid wat kogleêre inplantings op twee ontvangers gedoen het; ’n vennootskap met die B4i Academy wat 248 leerderskappe aan mense met gestremdhede moontlik gemaak en ook 217 nuwe werksgeleenthede geskep het; asook ’n reis deur die land waartydens sy met jong meisies by hoërskole kon gesels en kon herinner dat elkeen van hulle se stem waarde het.

In verskeie kommentare op Facebook tydens vanjaar se Mej. Suid-Afrika kompetisie is Mia geloof vir haar grasie, en die passie waarmee sy die kroon gedra het.

Een kommentaar lees: “Daar sal nooit weer ’n Mej SA wees soos Mia nie, sy staan nie net uit nie, maar is beeldskoon en slim. Sy is die mooiste engel.”

Oudtshoorniete bars van trots oor ons mooiste Mia, en kan nie wag om haar te ondersteun in haar volgende avontuur nie.

Be the first to comment on "Nuwe seisoen vir mooiste Mia"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*