Nuwe lewe vir ikoniese gebou

Bo: Argiteksvoorstelling van die voltooide gebou. Foto verskaf Onder: Opknapping van die gebou het reeds begin. Foto: Angelique Erasmus

Die perseel op die hoek van Voortrekker- en Langenhovenweg wat bykans 100 jaar gelede die tuiste was van Suid-Afrika se heel eerste Amalgemated Ford-agentskap, kry eersdaags ’n splinternuwe gesig.

Die gebou waar die Nissan-agentskap was nadat Amalgemated Ford verskuif het, staan reeds etlike maande leeg, maar het nou nuwe eienaars met groot planne.

Dit is interessant dat die perseel waar die gebou staan in die middel 1800’s na die stigting van Oudtshoorn, die dorp se “sakekern” was.

Die historikus, Hazel Jonker, vertel dat daardie gedeelte vir dekades die dorp se markplein was waar elke dag handel gedryf is. Die markplein is teen die einde van 1800 verskuif om nader aan die NG Moederkerk te wees nadat dit voltooi is.

“In daardie jare was George Road en Queenstraat, wat vandag Langenhoven en Baron van Reede is, die hoofroete deur die dorp en die markplein was die kern vir handeldryf. Oorkant die markplein waar die munisipale geboue nou is, was ’n groot park.”

Met Karoovest, die nuwe eienaars van die gebou, se planne om verskeie kleinhandelsbesighede in die gebou te vestig, raak die perseel in der waarheid na meer as ’n eeu weer ’n “markplein” vir inwoners van die dorp.

Die gebou is onlangs deur Karoovest, ’n groep plaaslike sakelui gekoop.

Karoovest sê dat hulle planne vir die gebou tot voordeel van die dorp is en dat hulle met dié ontwikkeling weer in die dorp terugploeg en daarop fokus om koopkrag in die dorp te hou.

Brandon Iverach, direkteur van Karoovest, sê Oudtshoorn is tans besig om te transformeer en dat die ontwikkeling van hierdie bekende sakeperseel ’n integrale deel is van die transformasie van die dorp.

“Ons doel is om ’n dinamiese ruimte vir besighede te skep waar kundiges met mekaar kan skakel en die gemeenskap toegang het tot noodsaaklike dienste in ’n gerieflike en moderne omgewing,” het hy vandeesweek gesê.

Hy het ook bygevoeg dat Oudtshoorn toenemend ’n bestemming raak waar gesinne en professionele mense hulle kom vestig as gevolg van veiligheid, skole, dienste en sentrale ligging.

Spesifieke inligting oor besighede wat reeds spasie in die gebou bespreek het, is nog nie beskikbaar nie, maar die gebou gaan aangewend word om meer dienste en winkels in Oudtshoorn te vestig om in die groeiende behoeftes van inwoners te voorsien.

Op die oomblik word daar ook met nasionale huurders onderhandel en uiteindelik sal die gebou ten minste tien kleinhandelswinkels asook stoorruimtes bevat.

Die gebou van 3 500 m² bestaan uit twee vlakke sowel as ’n ondergrondse area wat parkeerplek van 900 m² beskikbaar het.

Volgens Bert Verlinde, bekende in die eiendomsmark, sien hy positiewe vooruitsigte en sakegeleenthede vir die dorp.

“Hoewel dit ’n aantal jaar duur vir ekonomiese groei van nuwe besighede om te vestig en koopkrag en werkskepping te versterk, is daar definitief positiewe vooruitsigte vir Oudtshoorn se ekonomie en algehele groei in die volgende vyf jaar,” sê hy. (HANNES VISSER)
(Enkele persele is beskikbaar. Kontak brandon@iverach.net vir meer inligting.)

Be the first to comment on "Nuwe lewe vir ikoniese gebou"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*