Nuwe hoop vir Coronation

Bo: Die nuwe bestuur vir Coronation Memorial is Saterdag 8 Junie 2024 tydens ’n spesiale vergardering verkies. Hulle bestaan uit vyf bestuurslede, tesame met ses gekoöpteerde lede en verskeie rolspelers wat as adviseurs gaan optree in verskillende afdelings om te verseker dat die versorgingsoord optimaal bestuur word en inwoners goeie versorging sal ontvang. Foto verskaf Onder: Die nuwe bestuur maak tans staat op kosskenkings om te verseker inwoners het elke dag iets te ete. Hier neem werknemers geskenkte goedere na die kombuis. Een weldoener het 2 ton mieliemeel aan die versorgingsoord geskenk. Foto: Frank Abrahams

Na ongeveer drie maande is daar uiteindelik ’n ligpunt vir inwoners by Coronation Memorial Versorgingsoord, nadat daar by die instansie ingegryp is deur bekommerde familielede en ook lede van die publiek.

’n Mosie van wantroue is Saterdag 8 Junie 2024 by ’n spesiale vergadering teen die huidige bestuur ingedien, waar nagenoeg 40 inwoners, familielede en lede van die publiek die vergadering bygewoon het.

Daar is vyf nuwe bestuurslede verkies en ook ses gekoöpteerde lede, soos deur die grondwet gestipuleer.

Hulle is Frank Abrahams (voorsitter), Reggie Afrika (ondervooristter), Jack Swart (sekretaris), Joey McKay (tesourier), Evelan Mckay (assistentsekretaris) en Jakobus Bosman (assistent-tesourier).
Abrahams, Afrika en Bosman het familielede wat in Coronation woon.

Die nuwe bestuur wil ook in die toekoms moontlik die grondwet wysig dat 75% van die bestuurslede inwoners van die oord of familie in die oord moet hê om daarop te kan dien.

“Op die stadium raak ons nog nie aan die geld of finansies van Coronation nie, ons grootste prioriteit is om te sorg dat die inwoners drie maal per dag genoeg en goeie gehalte etes kry,” sê Abrahams, nuutverkose voorsitter van Coronation se bestuur.

Die bestuur wil ook nie aan enige finansies raak totdat daar nie ’n breedvoerige ondersoek van stapel gestuur is oor presies waar en deur wie enige van Coronation se geld spandeer is.

Waarvoor die 63 inwoners se maandelikse fooi van R1 950, sowel as die R3 500 wat deur die Departement van Sosiale Ontwikkeling vir elke inwoner in Coronation se rekening betaal word, spandeer is, is daar ook geen uitklaring nie.

Daar word ook beweer dat van die inwoners se Sassa-kaarte in die besit van die voormalige bestuur is, en geld sonder toestemming daaruit getrek is.

Een inwoner het glo meer as R20 000 oor ’n tydperk verloor. ’n Saak van diefstal sal nog in die toekoms gemaak word teen die verantwoordelike persone, het Leon Campher, bekende gemeenskapsleier, wat die bal aan die rol gekry het, gesê.

Caroline Jansen, ’n voormalige bestuurslid en ’n ene Dido kan in ’n video op sosiale media gesien word hoe hulle Maandag van die perseel deur Polisie begelei is, toe ’n memorandum waarin die mosie van wantroue vervat is, aan hulle oorhandig is.

Bernie Herold ’n personeellid van die oord is na bewering ook nog nie weer sedert Maandag terug by die werk nie.

Sleutels vir die perseel, Coronation se voertuigsleutel en die bankkaart vir die instansie se bankrekening is nog in die besit van die voormalige bestuur en tot op datum nog nie aan die nuwe bestuur oorhandig nie.

Volgens Abrahams het hulle nog geen kommunikasie vanaf die vorige bestuur ontvang oor enige van die bogenoemde items nie.

“Ons kon nog nie kos koop vir die oumense nie, daarom vra ons vir skenkings vir kos, en geen geld nie, sodat ons kan verseker die mense word goed versorg,” het Campher aan Die Hoorn vertel.

Daar word ook noukeurig boek gehou van elke skenking, en afskrifte word ook aan die skenker gegee.

Die Hoorn het met een van die inwoners gesels oor hoe toestande tans by die Versorgingsoord is, in vergelyking met toestande in Die Hoorn se berig van 30 November 2023.

“Ons is baie verlig en so gelukkig, die hele atmosfeer het verander. Die kos is ongelooflik lekker, ek kan nie onthou wanneer laas ons so bederf was en so lekker geëet het nie,” het Priscilla du Toit gesê.

Daar is ook ’n opdrag aan die sekuriteitsmaatskappy gegee om nie die ou bestuur op die perseel toe te laat nie.

Die Hoorn het Appels, Jansen en Herold telefonies en via ’n WhatsApp boodskap vir kommentaar genader. Slegs Jansen het haar telefoon geantwoord en Die Hoorn meegedeel dat sy Woensdagmiddag in ’n vergadering is en nie op daardie stadium kon kommentaar lewer nie.

Die Hoorn het ’n boodskap vanaf Denisia Appels, Xavier Appels se vrou ontvang dat haar man reeds twee weke by die huis is.

“Tans weet hy net dat daar ’n groep nuwe bestuur is, en hy sal met u kontak maak sodra hy die groen lig kry om te gaan werk vanaf die dokter,” lees ’n gedeelte van haar boodskap.

Geen verdere kommentaar is teen druktyd vanaf hulle ontvang nie.

Intussen het Campher sy bekommernis uitgespreek oor inwoners wat nie hul reg om te stem kon uitoefen op 29 Mei 2024 nie, nadat inwoners na be- wering nie toegelaat is om die perseel te verlaat nie.

Campher het ’n klag by die menseregtekommissie en IEC ingedien oor die aangeleentheid.
Intussen kan enige persone wat kos wil skenk met Frank Abrahams kontak maak by 081 891 9344.

Alhoewel daar nog ’n lang pad vir Coronation voorlê met verskeie wetlike uitdagings, blyk dit dat inwoners die versorging, omgee en aandag ontvang wat alle bejaardes verdien, en wat die belangrikste prioriteit behoort te wees. (Deur Angelique Erasmus)