’n Vrywilliger van die buiteland het in Desember 2023 by die Cango Wildlife Ranch (CWR) net buite Oudtshoorn, vrywilligerswerk saam met die werknemers gedoen en tyd saam met die diere spandeer.
Sy was so aangeraak deur die werknemers se passie, toewyding en liefde vir die diere, dat sy en nog ’n ander persoon fondse bewillig het sodat 15 nuwe fietse gekoop en aan elkeen geskenk kon word.
“Van ons werkers loop elke dag werk toe en terug, in die hitte, reën, wind en weer en is nog boonop betyds vir werk, en hulle toewyding raak ons diep aan,” het Carmen Ellis, assistent direkteur van hul niewinsgewende maatskappy vir die Cheeta Preservation Foundation by die CWR aan Die Hoorn vertel.
Daar is 15 name geïdentifiseer wat uitdagings het met vervoer, en wie baat sal vind deur fietse te kry.
Die werknemers moet nie net vêr afstande loop omdat die CWR buite Oudtshoorn op die Grotte pad is nie, maar werk ook lang ure om die 90 verskillende spesies soos leeus, tiere, jagluiperds, krokodille en verskeie voël spesies te versorg.
Aanvanklik het die buitelandse vrywilliger, wat anoniem wil bly, genoeg fondse geskenk vir 7 fietse. Nadat sy gehoor het dat sowat 15 persone elke dag te voet loop, kon sy dit nie oor haar hart kry om net vir sewe fietse te skenk nie, en het nog fondse bewillig sodat ’n verdere sewe fietse gekoop kon word, en daar toe 14 fietse was.
’n Tweede persoon het die CWR gekontak en die 15de fiets geskenk, en daardie spesiale fiets is aan Oom Dail gegee, wat reeds vir 34 jaar by die Ranch werksaam is.
“Dis vir ons ongelooflik spesiaal, veral toe ons die fietse op 24 Januarie 2024 aan hulle kon oorhandig,” vertel Ellis.
Die glimlagte was hemelsbreed, en die opgewondenheid absoluut tasbaar.
Daar was selfs ’n paar trane, maar dit was trane van blydskap.
Gaan loer gerus na hulle Face-bookblad vir ’n video waar die fietse oorhandig word, daar word beslis aan die hartsnare geroer.
“’n Spesiale dank aan ’n plaaslike fietswinkel wat gehelp het met die aankoop van die fietse en wat ook die eerste diens van elke fiets aan ons werkers skenk, dit word opreg waardeer”, sluit Ellis af. (Deur Angelique Erasmus)