DIE Groter Oudtshoorn-raad het gisteroggend by ’n spesiale raadsvergadering ’n nuwe speaker vir die raad gekies nadat die speaker wat in November 2021 verkies is, Colan Sylvester van die Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief (OGI), vroeër die week uit dié pos bedank het.
Sylvester het bedank nadat die OGI, een van die ses partye wat ná die verkiesing in November 2021 ’n koalisie gevorm het om die Groter Oudtshoorn-raad te beheer, in Desember besluit het om alle bande met dié koalisie te verbreek.
Dié koalisie, wat in November gevorm is, het bestaan uit ses partye – die ANC, Icosa, OGI, die Advieskantoor, die Patriotic Alliance (PA) en Suid-Kaap Saamstaan.
Ondanks die OGI se onttrekking is die koalisie steeds in beheer van die Groter Oudtshoornraad omdat hulle steeds ’n meerderheid van 13 raadslede het om voorstelle deur te voer.
Good sal waarskynlik nou ook saam met die koalisie werk nadat dié party se raadslid, Sonia Bentley, gister tot die munisipale raad se nuwe speaker verkies is.
Die OGI het Maandag in ’n persverklaring gesê dat hulle hul besluit om aan die koalisie te onttrek skriftelik aan die ANC se streek- en provinsiale leierskap gekommunikeer het, terwyl die ander koalisievennote ook van die besluit ingelig is.
In die verklaring sê die OGI die party het ná die verkiesing besluit om met die ANC, Icosa en drie ander partye saam te werk omdat hulle geglo het dit sou hulle die geleentheid gebied het om dienste te lewer aan kiesers, dienslewering in die dorp te verbeter en korrupsie teen te werk.
In die verklaring lig die OGI verskeie dinge uit wat veroorsaak het dat hulle onttrek het.
Die partye het volgens die OGI ooreengekom om ’n koalisie-ooreenkoms saam te stel, te bespreek en te aanvaar as basis vir samewerking. Hoewel ’n koalisie-ooreenkoms opgestel is, is dit nooit deur die partye onderteken nie “met verskillende verskonings en vertragings wat geopper is”.
Die OGI verklaar ook hulle is ongelukkig omdat Icosa en die ANC van vergaderings weggebly het sonder kennisgewing en verskoning; daar geen koukusvergaderings voor raadsvergaderings gehou is nie; die agenda vir raadsvergaderings nie vooraf in die koalisie bespreek en gefinaliseer is nie, en daar bilaterale ooreenkomste tussen die ANC as senior vennoot en die PA asook tussen die ANC en Icosa gesluit is wat nooit aan die koalisievennote bekend gemaak is nie.
Volgens die OGI se verklaring was daar voorts onwettige inmenging van koalisievennote in die opstel van tenders; eensydige salarisaanpassing van vyf werkers se salarisse sonder dat enige administratiewe prosedure gevolg is; en ’n aandrang van koalisievennote op poste (sogenaamde politieke aanstellings) waarvoor nie begroot is nie.
Die OGI het aangedui dat die party voortaan ’n waghondrol as opposisieparty sal speel om te verseker dat die bronne en dienste van die munisipaliteit nie misbruik en verkeerd aangewend word nie.
“Ons sal ons kiesers en die gemeenskap ingelig hou en saam met die mense van Oudtshoorn verseker dat korrupsie vasgevat word en korrupte raadslede en amptenare vervolg word.
Oudtshoorn se burgemeester, Chad Louw, het Dinsdag in ’n sterk bewoorde verklaring gesê dié beskuldigings van die OGI wat op sosiale media gemaak is, skend die beeld van die Groter Oudtshoorn en van ’n munisipaliteit, wie se hoofdoelwitte goeie regering en dienslewering aan inwoners is.
Louw sê die raad het nog geen formele klagtes ontvang van die talle bewerings wat op sosiale media gemaak is nie.
“Al die raadslede het ’n plig teenoor die munisipaliteit en die publiek. Ons het belowe om aan die kant van die mense te wees en dit is ’n belofte wat ons sal nakom.
“Al hierdie negatiewe en valse bewerings sal ons nie ontmoedig om diens aan die mense te lewer en goeie bestuur te verseker nie.” (Deur Liesel le Roux)
November se koalisie kraak
