Nooddienswerker in kwarantyn ná kontak

’N NOODDIENSWERKER by die Oudtshoorn Brandweer is in selfkwarantyn nadat hy Dinsdag (19 Mei 2020) op die toneel van ’n motorbotsing in kontak was met ’n positiewe Covid-19-geval.

Luidens ’n verklaring van die Oudtshoorn Munisipaliteit het die beampte al die nodige voorsorg­maatreëls tydens die voorval gevolg.

Die pasiënt se positiewe Covid-19-status is by sy opname in die hospitaal bevestig.

Munisipale personeel op die toneel wat nie direk met die pasiënt in aanraking was nie, is deur die munisipaliteit versoek om tuis te bly en eers Maan­dag terug te keer werk toe. Voorsorgmaatreëls om die veiligheid van brand­weerpersoneel te verseker, is geneem. Die stasie en voertuie is ont­smet en die eenheid en dienste gaan soos gewoonlik voort.

• Die totale aantal mense in die Groter Oudts­hoorn wat al positief vir Covid-19 getoets het, staan sedert gister op ses nadat nog drie positiewe gevalle op Donder­dag, 14 Mei, Dinsdag, 19 Mei en Woensdag, 20 Mei bevestig is. Die eerste drie inwoners van die Groter Oudts­hoorn wat die virus opgedoen het, het reeds al drie herstel.

Deon Meyer berig dat Kannaland ook nie meer op die syfer nul staan nie nadat die eerste Covid-19-geval daar Sondag (17 Mei) bevestig is. ’n Man wat deel was van ’n groep van ses wat twee weke gelede per taxi van Kaapstad se kant na Ladismith gereis het, is op Ladismith positief getoets.

Die taxi is by die dorp se padblokkade voorgekeer en die insittendes in die hospitaal opgeneem.

Tientalle ander mense wat per taxi gereis het, is ook na wat verneem word as voorsorgmaatreël na die hospitaal gebring vir sifting (“screening”).

Hoewel verlede week aan Die Hoorn gesê is dat die passasiers ontslaan is omdat hulle nie blootstelling gehad het nie, het Sanette Labuschagne, hoof: primêre gesondheidsorg, die eerste geval van Covid-19 in Kannaland bevestig: “Die persoon is reeds in isolasie sedert hy getoets is. Hy is gesond.

Sy kontakte word nou nagespoor en ook getoets. Ons kon ongelukkig nie sy positiewe status bekend maak voordat dit amptelik op die Wes-Kaap se syfers van die Premier verskyn het nie.”

• Die Departement Gesondheid se sifting- en toet­singsprogram wat op Maandag, 11 Mei, in die Groter Oudtshoorn afgeskop het, word die ­week voortgesit. Tot op 18 Mei is 6090 mense bereik en ne­ge vir toetsing verwys.

Vandeesweek is dele van Dysselsdorp, De Rust en Bongolethu aan die beurt.
“Deur-tot-deur-sifting is nie die enigste manier om gekeur te word nie. Ons het ook ’n sif­tingstoets by westerncape.gov.za/coronavirus,” sê Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement Gesondheid. Die publiek kan ook die tolvrye hulplyn skakel (021 928 4102) of hul dokter of hul klinieke of hospitale kontak.

Wes-Kaap gereed vir Vlak 3, sê Winde
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het die week ’n versoek gerig dat die hele provinsie toegelaat moet word om einde Mei na Vlak 3 te beweeg.

Volgens Winde is die provinsie se gesondsheidsektor voorbereid en gereed om die verwagte Covid-19-toename in pasiënte te hanteer, maar sal die Wes-Kaap nie die ekonomiese las kan dra van ’n voortsetting van Vlak 4 nie, en sal dit groot swaar­kry vir inwoners van die provinsie tot gevolg hê. (Deur Liesel le Roux)