Naweek vol geleenthede vir dorp

Die afgelope naweek het vier geleenthede duisende mense na Oudtshoorn gelok en weer eens getoon dat Oudtshoorn ’n ware Mekka vir ’n groot verskeidenheid aktiwiteite is.

Vrydag het ongeveer 2 000 staats- en munisipale amptenare vanoor die Tuinroete heen aan die department van kultuursake en sport se sportdag kom deelneem.

Vanaf Vrydag tot Sondag is die SA jeugfietsrykampioenskappe in Oudtshoorn aangebied en vir die mense wat nie wou draf of stap of fietsry nie, was daar die Grootvoël Boeremusiekfees wat by Struisies gehou is en waar tot laataand geskoffel is.

Terwyl al hierdie goed op die grond gebeur, het meer as 60 skaalmodelvliegtuie mekaar die lugstryd by die Oudtshoorn-lughawe aangesê.

Dit was voorwaar ’n naweek wat bykans vir elke belangstellende iets gebied het en ’n groot ekonomiese inspuiting vir die dorp meegebring het.

As daar in gedagte gehou word dat ’n groot perde-uithourit die vorige naweek plaasgevind het en dat Mej Suid-Afrika hier ’n lang draai kom maak het, besef mens dit is maar enkele geleenthede wat Oudtshoorn se beeld uitdra na die res van die land.

Voeg hierby die twee winkelsentrums wat besig is om te verrys en mens besef wat die potensiaal en natuurlik ook die uitdagings vir Oudtshoorn behels.

Na sy aanwysing as die AHI se opkomende sakeleier van die jaar het Abri Ferreira twee weke gelede gesê mense en inwoners moet wyer kyk en geleenthede buite die dorp benut sodat daardie geld na die dorp kan vloei.

Die voorsitter van die AHI, Dr Willie Cilliers, het dit ook Donderdgaand by ’n funksie ge-eggo toe hy aangekondig het dat die AHI se jaarlikse kongres vanjaar in Oudtshoorn plaasvind.

Met die Suid-Kaap wat besig is om uit sy nate te bars begin mense toenemend na Oudtshoorn kyk as ’n basis vanwaar hulle kan werk, veral in die huidige post-Covid klimaat waar talle ondernemings van die huis af bedryf kan word.

Daar is ’n lang lys van sport- sake- en kultuurgeleenthede, soos byvoorbeeld die KKNK en die land se grootste ovaalbaankampioenskap wat jaarliks in Oudtshoorn plaasvind en letterlik miljoene die dorp inbring en nuwe geleenthede aan inwoners bied. (Hannes Visser)